V:  Waarom het julle diversiteit as die veldtog se hooftema gekies?

A:  Diversiteit was een van die temas wat in die opname se klimaatsindeks as ’n struikelblok na vore gekom het, en ons wil met hierdie veldtog vir die mense wys hoe ons diversiteit kan benut om die NWU sterker te maak en die doelwit van uitnemendheid te bereik. Trouens, ons wil hê mense moet verder beweeg as om bloot mekaar se verskille te verdra. Hulle moet diversiteit ten volle aanvaar en mekaar werklik respekteer.

 

V:  As eerste stap het bestuurders reeds begin om werkswinkels by te gewoon. Wie het hierdie werkswinkels aangebied en wat was die terugvoer tot dusver?

A: Dieselfde maatskappy, Diversi-T, wat verlede jaar se opname onderneem het, fasiliteer tussen Junie en September hierdie jaar die 13 werkswinkels vir 262 bestuurders. Die reaksie wat ons tot dusver ontvang het, was so goed dat ons soms tot 30 bestuurders gehad het wat ’n sessie bywoon, in plaas van die beoogde 20 per sessie.

 

V:  Sal Diversi-T ook die werkswinkels vir die ander personeellede fasiliteer?

A:  Nee, hulle sal nie. Ons het die kampusse se bestuurskomitees gevra om kampvegters (“champions”) te identifiseer om ons te help om die werkswinkels gedurende die volgende fase intern te fasiliteer.

 

Die kampusbestuurskomitees het 10 mense van regoor die NWU geïdentifiseer wat as kampvegters diversiteit sal aanmoedig. Hierdie personeellede, by wie nog 10 personeellede van Mense en Kultuur sal aansluit, sal opgelei word om die werkswinkels vir die hele instelling te fasiliteer.

 

V:  Wanneer gaan die tweede fase begin en hoe lank dink jy sal dit duur?

A:  Ons gaan in September met hierdie werkswinkels begin en dit kan enigiets van drie tot vier jaar duur om die werkswinkels vir al die personeellede aan te bied.

 

V:  Waarom sal dit so lank neem?

A:  Ons beplan om elke maand twee werkswinkels in Potchefstroom en een elk in Mahikeng en Vanderbijlpark aan te bied. Met 20 mense wat ’n sessie bywoon en ’n personeelkomponent van sowat 5 000 lê daar duidelik ’n lang pad voor, maar dis heeltemal in die haak. Ons wil hê mense moet deurlopend groei – as jy te vinnig beweeg, sal jy van hulle langs die pad verloor.

 

V:  Wanneer en waar sal hierdie werkswinkels plaasvind?

A:  Ons het ’n tydskedule met moontlike datums opgestel. Personeellede sal kan aansoek doen om ’n werkswinkel op ’n spesifieke datum by te woon. As daardie werkswinkel reeds vol is, sal ons vir jou ’n alternatiewe datum gee.

 

Wat die plek betref: die werkswinkels sal regoor die NWU gehou word. Trouens, die werkswinkel wat jy bywoon kan moontlik nie op die kampus wees waar jy werk nie. Die hele idee is om diverse groepe te skep – ons wil mense van alle rasse, geslagte, kampusse en fakulteite of departemente byeenbring. Die diversiteit van die groepe sal al klaar ’n eerste oefening wees om diversiteit te verstaan en hoe ons daarby kan baat.

 

V:  As my werkswinkel op ’n ander kampus is, hoe gaan ek daar kom?

A:  Moenie bekommerd wees nie, Mense en Kultuur sal die nodige reëlings tref vir motors uit die universiteit se motorpoel om beskikbaar te wees.

 

V:  Sal die inhoud van die werkswinkels vir personeellede dieselfde wees as dié wat die bestuurders bygewoon het?

A:  Beslis – ons wil vir almal dieselfde boodskap en inhoud oordra sodat daar ’n gedeelde begrip kan wees.

 

V:  Gaan julle iets doen met die inligting wat uit al hierdie werkswinkels voortspruit?

A:  Ja, dit sal vir ons wys wat ons moet begin, ophou of aanhou doen. Dit sal ons uiteindelik help om die NWU se kultuur die herdefinieer.

 

DIVERSITEIT BENUT

Vuyiswa Xoba is die direkteur vir organisasie-ontwikkeling by Mense en Kultuur.

FOKUS OP

Leer om ons

Soos julle teen hierdie tyd weet, het die NWU ’n diversiteitsveldtog genaamd *Ubuntu geloods in reaksie op die resultate van die klimaat- en kultuuropname wat verlede jaar onder personeellede gedoen is.

 

Eish! het vir Vuyiswa Xoba, die direkteur vir organisasie-ontwikkeling by Mense en Kultuur, gevra om ons meer oor hierdie veldtog te vertel.

* Ubuntu beteken menslikheid en deernis, en dui daarop dat daar ’n universele band van mededeelsaamheid is wat alle mense aan mekaar verbind.