VAT HANDE MET

CHINESE VIR IMPAK

ROL AF

’n Samewerkingsooreenkoms tussen die NWU, die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit en die Chinese *New Hope Group (NHG) sal nie net ’n positiewe impak hê op die plaaslike gemeenskap nie, maar ook op die toekoms van Suid-Afrika se landboubedryf.

Verteenwoordigers van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe, saam met raadslid Amelia Tsukudu van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, het onlangs op NHG se perseel in Meyerton byeengekom vir die oorhandiging van studiebeurse ter waarde van R60 000.

 

Jeremiah Thabiso Molatole and Steve Kgotlelelo Mahlake, die studente wat die beurse ontvang het, is albei van die NWU se Skool vir Landbouwetenskappe.

 

Volgens Angelique Gu van NHG is die maatskappy ’n relatief nuwe, maar uiters mededingende speler in die Suid-Afrikaanse landboubedryf.

 

As ’n veevoeronderneming beplan NGH om sy produksie-aktiwiteite in die nabye toekoms uit te brei deur nog verskeie moderne veevoermeules te ontwikkel en vleisverwerkingsprojekte te ondersteun.

 

Bemagtig gemeenskappe

 

NGH wil verder ook deur projekte soos die samewerking met die NWU programme ontwikkel en inisieer om die gemeenskappe te bemagtig wat hulle bedien. Laasgenoemde verwys nie net na gemeenskappe in die geografiese omgewing nie, maar ook na die landbougemeenskappe wat sy produkte gebruik.

 

“As ’n internasionale konglomeraat verstaan ons dat ons ’n maatskaplike en etiese verantwoordelikheid teenoor ons plaaslike gemeenskappe het, en as sodanig moet ons teenwoordigheid ’n verskil aan mense se lewens maak,” sê sy. Die vennootskap sal in die toekoms internskappe en opvoedkundige uitruilprogramme bekendstel.

 

Belê in ’n beter toekoms

 

In sy reaksie het prof Rodney Medupe, die adjunkdekaan van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe, NGH geloof vir hulle aktiewe betrokkenheid by die gemeenskap en hul bydrae tot hoër onderwys.

 

“Enige belegging wat in onderwys gemaak word, is ’n belegging in ’n beter toekoms,” sê Rodney. Hy voeg by dat nie net die ontvangers by die impak van die beurse sal baat nie, maar ook hul gemeenskappe en die landbousektor.

 

“Samewerkingsprojekte soos hierdie gee ons hoop, nie net ten opsigte van die realisering van akademiese potensiaal nie, maar ook ten opsigte van die oordrag van innoverende vaardighede,” sê hy.

 

NGH se adjunk- besturende direkteur, Bob Wang, het die beurse oorhandig.

 

* NHG is een van China se grootste privaat ondernemings, met uiteenlopende sakebelange wat onder andere landbou en die chemiese en energiebedryf dek, asook vaste eiendom en finansies. Die groep se wêreldwye voetspoor sluit 450 takke in meer as 20 lande en 80 000 werknemers in.

TERUG