>

>

LEES MEER

is Joseph se abrakadabra!

 “Pasop! Ek vat hierdie een, en as ek jou tref, sal jy nêrens heen kan vlieg met daardie koeie nie! Dink goed na oor jou volgende skuif.”

MORABARABA

MORABARABA

Joseph Mathlong, sportbeampte op die kampus in Vanderbijlpark en denksport-entoesias, probeer sy uiterste bes om my die kuns te leer om morabaraba te speel, maar ek is verlore. Trouens, ek het die behoefte om op hierdie vroeë stadium te bieg dat ek nie baie goed is met bordspeletjies nie – laat staan nog speletjies met vlieënde koeie!

 

Gelukkig is Joseph ’n uitmuntende leermeester en dink hy ek sal mettertyd die eeue oue stryd van morabaraba, Afrika se oudste bordspeletjie, ten volle begryp. En hy behoort te weet, want sy morabaraba-vaardighede het daartoe gelei dat hy onlangs die topplek in Denksport Suid-Afrika (MSSA) se Gauteng-kampioenskap behaal het.

 

Joseph sê sy oorlede oupa, Lefa Mathlong, het hom die eerste keer aan die spel bekend gestel toe hy 10 jaar oud was. “My oupa het in ’n goudmyn gewerk en hy en sy vriende het in breektye die spel gespeel,” vertel Joseph. “My oupa was ’n briljante speler. Jy het nie geld nodig om die spel te speel nie, en hy het dit destyds met klippies gespeel.”

 

Op hoërskool het Joseph weer met die spel kennis gemaak, aangesien dit as ’n kulturele aktiwiteit aangebied is, en soos die gesegde lui: die res is geskiedenis. Hy het in 2017 as ’n MSSA-speler geregistreer en is tans die nasionale span se bestuurder vir twee denksport-dissiplines.

 

Morabaraba – ’n spel met vaardigheid en strategie

 

Joseph sê die spel is gehul in legendes en mites.’n Gewilde legende is dat Afrika-opperhoofde hulle adviseurs op grond van hulle morabaraba-vaardighede gekies het. “In die mees basiese formaat leer die spel die spelers – ook ‘krygers’ genoem – hoe om veerooftogte te beplan en uit te voer,” verduidelik Joseph.

 

Volgens die reëls van die spel het twee spelers elk 12 koeie (spelstukke) en speel hulle op ’n houtbord met 24 kringe daarop. Die doel is om soveel van jou opponent se koeie as moontlik te buit terwyl jy jou koeie vorentoe en in die rigting van jou opponent se agterste ry skuif.

 

Op ’n vraag of die uitkoms van die spel op geluk gegrond is, antwoord Joseph vinnig dat ’n mens moet oefen om êrens te kom, en dat baie tyd daaraan bestee word om jou strategie te vervolmaak. ’n Spel kan binne ’n kwessie van ure of minute gewen word, afhangend van die spelers se vaardighede. Die vinnigste spel wat Joseph nog ooit gespeel – en gewen – het, het een minuut lank geduur.

 

“Party mense sê dis niks meer as nulletjies-en-kruisies of dambord nie, en jy kan binne vyf minute die reëls leer, maar dit kan jou ’n leeftyd neem om dit baie goed te speel. Daar is altyd ’n nuwe kinkel by,” voeg Joseph by.

 

“Die spel leer jou om te dink en jou opsies te oorweeg voordat jy skuif; dit hou jou gefokus.” Hy voeg by dat dit nie ’n fisieke spel is nie – mans en vroue kan saam sit en dit op gelyke voet speel.

 

Denksport as ’n mededingende sportkode

 

Die kampus in Vanderbijlpark het in 2017 by MSSA aangeluit, en sedertdien het die sport met rasse skrede gevorder. Trouens, dit het die kampus minder as 24 maande geneem om nasionale bekendheid te verwerf. Die klub het tans meer as 100 lede wat aan twee hoofdissiplines deelneem: bordspeletjies (soos morabaraba, kaartspeletjies en oorlogspeletjies) en e-sport. Laasgenoemde verwys na alle rekenaarspeletjies en dié met ’n digitale basis, soos FIFA 18, Tekken 7, League of Legends, Counter Strike en robotika.

 

Sedert die begin van denkspeletjies op die kampus het die gewildheid van die sportsoort alle verwagtinge oortref. Volgens Joseph, wat die kampus se denksportkoördineerder is, ding meer as 70 mense in bordspeletjies mee, terwyl 35 op e-sport fokus. Die klub se lede sluit personeel én studente in.

“Morabaraba leer jou om te dink en jou opsies te oorweeg voordat jy skuif; dit hou jou gefokus,” sê Joseph Mathlong, sportbeampte op die kampus in Vanderbijlpark.

 

Denksport Suid-Afrika het onlangs die amptelike nasionale ranglys vir morabaraba vrygestel. Die lys word oorheers deur die NWU in Vanderbijlpark, met drie lede – Siyabonga Mogale, Sebolelo Motlhabi en Joseph Mathlong – wat die drie topplekke op die ranglys beklee.

Joseph Mathlong, sportbeampte op die kampus in Vanderbijlpark, het onlangs vir kommunikasiespesialis Annette Willemse geleer om morabaraba te speel.