>

>

REDAKSIONEEL

Verskeidenheid maak die lewe interessant

KLIK OM MEER TE LEES

Verskeidenheid gee ’n bietjie skop aan die lewe, en in hierdie uitgawe van Eish! bewys die artikels oor ons personeellede se verskillende belangstellings, talente en prestasies dat dit regtig waar is.

 

Kyk byvoorbeeld na Innocentia Pitso en Lynn Booysen. Hulle was onder die topstudente van 2017 in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe op die kampus in Vanderbijlpark, en glo vas ’n mens moet nooit ophou leer en jou vaardighede slyp nie.

 

Ons almal se drome word egter nie in die bladsye van handboeke waar nie. Vir sommige van ons lê ons passie daarin om ’n verskil in die lewens van ander te maak. In die artikel oor die span by die Departement Studentevoorligting en -ontwikkeling kan julle byvoorbeeld lees hoe hulle na studente uit Potchefstroom se plaaslike gemeenskap uitreik om hulle met leierskapsvaardighede toe te rus.

 

Vir die meeste van ons is skryf bloot ’n manier van kommunikeer (as jy regtig geen elektroniese toestelle naby het nie). Vir die talentvolle Mohsin Sayed van ons kampus in Vanderbijlpark is skryf – en in die besonder die kuns van kalligrafie – ’n gekoesterde stokperdjie.

 

Nog ’n voorbeeld van hoe wonderlik uiteenlopend ons is, is dat sommige van ons die kollig vermy, terwyl een van ons buitengewone studente, Sam Junior Mbatha, juis op die verhoog of voor die kamera floreer.

 

Terwyl sommige van ons ons groothartigheid of imposante persoonlikhede gebruik om die wêreld ’n beter plek te maak, benut ander hulle innoverende denke om oplossings te vind vir die uitdagings wat ons en ons planeet in die gesig staar. Onder hulle is die kollegas wat onlangs ’n weerradarnetwerk bekendgestel het wat ’n werklike impak op kwessies soos droogtes, kitsvloede en ander weerverwante gebeure sal hê.

 

Ja, die NWU-gemeenskap is inderdaad ’n kleurvolle potpourri van mense wat voortdurend verras en uitstyg en só die lewe interessant maak.

 

Lekker lees.