Ekonoom

lei ’n nasionale vereniging

’n Akademikus van die NWU is gekies om die Ekonomiese Vereniging van Suid-Afrika (ESSA) te lei. Prof Waldo Krugell, adjunkdirekteur van die Skool vir Ekonomiese Wetenskappe, is die eerste NWU-akademikus om as ESSA se voorsitter gekies te word.

Waldo is in Augustus by ESSA se konferensie as voorsitter gekies en sy tweejaartermyn in dié amp begin amptelik volgende jaar, in September 2018. Hy is ’n ervare lid van ESSA en was vir meer as ’n dekade op die raad. Hy sê hy sien uit daarna om die akademiese gemeenskap te dien.

 

“Dit is ’n groot eer en voorreg om deur my eweknieë verkies te word. Dit is wonderlik om te weet dat hulle my vertrou om ’n bydrae op die gebied van die ekonomie te lewer.”

 

Een van die grootste uitdagings in hierdie pos is om ESSA se tweejaarlikse konferensie in 2019 te reël.

 

“Dit sal wonderlik wees om enersdenkende mense byeen te bring. Die konferensie is ’n waardevolle besprekingsforum, nie net vir akademici nie, maar ook vir lede van die samelewing wat daarin belangstel.”

 

Die doel is om uit te brei

Waldo se hart klop warm vir ekonomie en hy plaas die belange van sy studente voorop. Dit is waarom hy die konferensie wil

uitbrei om sy ontwikkelingsdoelwit te ondersteun deur nagraadse studente uit verskillende agtergronde in te sluit.

 

Sy toewyding aan onderrig gaan ver terug. Hy is sedert 1999 as dosent en navorser by die NWU betrokke en het in hierdie tyd as mentor talle studente geïnspireer om hul nagraadse studies te voltooi.

 

Sy eie navorsing sentreer om ontwikkelingskwessies binne die Afrika- en Suid-Afrikaanse konteks.

 

Waldo is nie die enigste akademikus wat opgewonde is oor sy verkiesing as voorsitter nie, soos een van sy kollegas kan getuig: “Ek is opgewonde om te sien hoe hy die relevansie van die samelewing en die verskillende gebiede van die ekonomie tydens sy ampstermyn gaan verseker,” sê prof Raymond Parsons van die Skool vir Besigheid en Korporatiewe Bestuur, wat erelidmaatskap by die ESSA-konferensie ontvang het.

 

 

BEWEEG OOR FOTO OM MEER TE LEES.

Prof Waldo Krugell is nie net ’n toegewyde navorser en gerespekteerde akademikus nie, maar ’n toegewyde atleet wat die uitmergelende Comrades-marathon hierdie jaar voltooi het.

Meer oor ESSA

 

ESSA is in 1925 gestig en bestaan hoofsaaklik uit akademici van universiteite landwyd wat kundiges op die gebied van die ekonomie is. ESSA se doel is om deur middel van referaatbesprekings, vaktydskrifpublikasies en ’n tweejaarlikse konferensie die bespreking van navorsing oor ekonomiese sake te bevorder, veral dié wat Suid-Afrika raak.

 

ESSA publiseer ook die toonaangewende vaktydskrif, die South African Journal of Economics, wat regdeur die Suider-Afrikaanse streek versprei word.

 

Die vereniging het meer as 600 lede en nege takke. (Bron: Wikipedia)

 

>

>

LEES MEER