beste kollega,

Boodskap van die

Visekanselier

beweeg af

>

>

Ek het onlangs die geleentheid gehad om ʼn paar ure saam met 20 verteenwoordigers uit die bedryf deur te bring. Drie dekane, skooldirekteurs en kollegas van die Loopbaansentrum was ook daar. Die doel was om by die bedryf te hoor hoe ons as universiteit vaar.

 

Haal ons graduandi die paal? En wat kan ons as universiteit doen om ons studente beter voor te berei?

 

Dit is belangrike vrae, want die mate waarin ons sukses hiermee behaal, is belangrik vir ons sukses as ʼn universiteit.

 

Bedryfsverteenwoordigers van mensehulpbronne en bedryfsielkunde het bogenoemde geleentheid bygewoon. Ek beplan om in die toekoms ook teenwoordig te wees wanneer ons met verskeie ander industrieë en beroepsliggame gesels.

 

Dit is eenvoudig so dat ons in gereelde kontak met die buitewêreld moet bly. Baie van ons akademici doen dit reeds, en ek moedig almal aan om dieselfde te doen.

 

Hierdie ingesteldheid om in voeling met die bedryf te bly, sluit aan by ons verbintenis tot uitnemendheid in onderrig en leer. Ons strategie stel dit duidelik dat ons wil “uitblink in innoverende onderrig en leer en voorpunt-navorsing, om sodoende die samelewing deur kennis te bevoordeel”.

 

Ons interne suksesmodel posisioneer onderrig en leer van ʼn hoë gehalte as van kardinale belang.

 

Ons neem die volgende dus ernstig op:

    • eksterne eweknie-evaluerings

    • studentetevredenheidsvlakke

    • werkgewerterugvoer

    • indiensneembaarheid van graduandi wat werk soek.

 

Ons mikpunt is dat ons graduandi binne ses maande nadat hulle afgestudeer het óf iewers in diens moet wees óf vir hulself moet werk. Om dit te bereik, maak ons nuwe onderrig-leer-strategie onder meer die volgende stellings:

 

“Die uitdaging vir opvoeders is om met studente interaksie te hê op ʼn vlak en binne ʼn konteks wat vir hulle bekend is.”

 

“Ons streef daarna om leerervaringe te ontwerp wat die geleenthede wat deur tegnologieë en digitale hulpbronne geskep word, op ʼn opvoedkundig verantwoordbare wyse gebruik.”

 

“Die NWU sal geleenthede aan studente bied om die kritiese, evaluerende en navorsingsvaardighede te verwerf wat hulle in staat sal stel om koherente begrip in ʼn verskeidenheid kontekste te vorm. Ons wil hê hulle moet lewenslange leerders word met die vermoë om te floreer in ʼn onsekere wêreld.”

 

Ons weet wat die uitdaging is. Kom ons pak dit met entoesiasme aan!