>

V:  Plagiaat is nie net iets wat studente pleeg nie; personeel beland ook soms in die slagyster. Wat is die grootste probleem wat personeel en plagiaat betref?

 

A: 'n Groot rede tot kommer is die inkonsekwentheid waarmee sommige fakulteite plagiaat onder hul studente hanteer. Hoewel elke saak op meriete hanteer word, moet die prosesse en prosedures wat die NWU in plek het konsekwent toegepas word. Dit beteken dat enige vorm van plagiaat by Studentedissipline en -voldoening, en by Werknemerverhoudinge aangemeld moet word om eenvormigheid te verseker.

 

Studentedissipline en -voldoening moet gekontak word in gevalle waar studente plagiaat gepleeg het, en Werknemerverhoudinge in gevalle waar personeel hulle daaraan skuldig gemaak het.

 

Dit is ook 'n probleem indien studieleiers en promotors die plagiaat nie deeglik ondersoek nie. Dit is hoofsaaklik omdat baie dosente en studieleiers sommige oortreders se moeilike omstandighede ken en dan besluit om eerder die saak intern te hanteer. Om 'n skuldige party te beskerm is oneerlik.

 

Akademiese personeel stem ook nie altyd saam oor die basiese definisie en fynere detail van hoe akademiese plagiaat manifesteer nie. Plagiaat kan op 'n klomp verskillende maniere gepleeg word waarvan sommige oop is vir interpretasie.

 

Ons sien byvoorbeeld al hoe meer gevalle van selfplagiaat. Dit is wanneer personeel artikels publiseer en dieselfde artikel of dele daarvan weer aan ander publikasies verkoop. Selfplagiaat is met ander woorde wanneer jy jou eie werk op verskillende platforms gebruik sonder om aan te dui dat dit reeds iewers anders gepubliseer is, en daarna finansieel voordeel daaruit trek.

 

V:  Indien dit die persoon se werk is, hoe kan dit dan as selfplagiaat beskou word?

A: Indien 'n artikel reeds gepubliseer is en dele daarvan is gebruik sonder om na die vorige publikasie te verwys, word dit as plagiaat beskou al is die oortreder die skrywer van die artikel. Enigiets wat iemand as deel van hul werk by die NWU doen, behoort nie net aan hulle nie, maar is ook die intellektuele eiendom van die universiteit.

 

V:  Wat is die implikasies van selfplagiaat?

A: Omdat dit die beeld van die universiteit skade berokken en omdat akademici 'n voorbeeld vir studente moet stel, kan enige vorm van plagiaat – ook selfplagiaat – tot afdanking lei. Die meerderheid van sake wat ons ondersoek het, het in summiere afdanking geëindig.

 

V:  Hoe groot is die probleem wanneer ons na plagiaat oor die algemeen kyk?

A: Daar was oor die afgelope drie jaar 'n kommerwekkende toename in plagiaat deur studente en personeellede. Internasionale akademici het byvoorbeeld gevalle opgemerk en aan ons gerapporteer. Hierdie tipe optrede kan die universiteit se openbare beeld en integriteit in die wêreld daarbuite baie negatief beïnvloed.

 

V:  Wat is die mees algemene verskonings waarmee mense vir plagiaat en veral selfplagiaat vorendag kom?

A: Meeste personeellede wat hulle hieraan skuldig maak, sê hulle het nie geweet dat hulle nie hulle eie werk mag gebruik sonder om van vorige publikasies melding te maak nie.

 

V:  Waar kan personeel gevalle van plagiaat aanmeld, en watter hulpbronne is beskikbaar om hulle te ondersteun?

A: Die eerste stap is om moontlike plagiaat by Mense en Kultuur: Werknemerverhoudinge aan te meld. Hulle neem dan die aantyging na die institusionele registrateur, prof Marlene Verhoef, waarna sy dit na die betrokke kampus se viserektor vir akademie verwys, en dit dan ondersoek word.

 

Om vermeende plagiaat deur 'n student aan te meld, kan die volgende werknemers op elk van die kampusse gekontak word. Die kontakpersone is:

 

  • Tshepi Molemane (Mafikengkampus) by X89 2175
  • Juanita de Kock (Potchefstroomkampus) by X99 1915
  • Collin Ntuleni (Vaaldriehoekkampus) by X10 3295

 

Personeel en studente kan die departemente vir studentedissipline en die skryflaboratoriums nader vir raad en hulp met Turnitin-verslae en plagiaat-opleiding.

LEES MEER

BEWEEG AF

>