REDAKSIONEEL

Lewe (baie) meer

>

BEWEEG AF

Beste kollegas,

 

Die lewe kan soms onvoorspelbaar en uitdagend wees en boonop het ons nie altyd beheer oor wat met ons gebeur nie. Een van die dinge wat ons wel kan beheer is om 'n monochroomlewe vir een met volkleurfleur te verruil.

 

In hierdie uitgawe gee ons TopWenker, Bonita Maboeta – bestuurder van NWU-Welstand – raad oor ʼn werk-lewe-balans en raai sy ons aan om 'n oomblik vir onsself te neem. Kom tot stilstand en kyk na jou lewe. Maak jy tyd om die goeie dinge in die lewe te geniet?

 

Ja, ek weet. Ons is almal baie besig, en tussen verpligtinge by die werk en verantwoordelikhede by die huis is dit nie altyd maklik om tyd vir jouself te maak nie. Wel, dit gaan ook nie uit die lug val nie. Dit verg beplanning om 'n boek te lees, te gaan stap of 'n foto te neem, of om te dans, te verf, of 'n sonsondergang dop te hou.

 

Die Kreatiwiteitsentrum op die Potchefstroomkampus kan ook help om jou lewe meer kleur te gee. Skryf in vir een van die kursusse wat hulle aanbied. Leer meer van musiektegnologie, skilder, of karakterontwikkeling vir strokiesprentverhale. (Lees meer oor die verskillende kursusse in die artikel oor die Kreatiwiteitsentrum.)

 

As jy nie wil hê dat die lewe in grys vlae by jou moet verbywarrel nie, moet jy iets doen. Dit gaan immers oor die werkwoorde. Stap. Hardloop. Teken. Skilder. Sing. Lag. Spring. Dans. En lag nog 'n slag.

 

Doen dit net.

 

Lekker lees.

>