Beste kollegas,

Boodskap van die

visekanselier

Beweeg af

>

>

Die jaar het nie te goed afgeskop nie, maar dit gaan darem al heelwat beter – soos wat julle sou agtergekom het as julle die gereelde NWU in ʼn Neutedop-kommunikasie volg.

 

Ja, daar was historiese oorwinnings op die sportveld en ons sien uit na ʼn klompie Olimpiese medaljes, maar ons is in die eerste plek ʼn instansie van hoër onderwys en navorsing.

 

Ons kernbesigheid is dus steeds die grondslag van wat ons doen. As ons studente hul grade verwerf, soos wat gebeur by ongeveer 50 gradeplegtighede regdeur die jaar, is ons saam met hulle bly.

 

Ondanks die vernietigende voorvalle van brandstigting op die Mafikengkampus vroeër vanjaar, kon ons onlangs deel in die vreugde van studente en ouers by die Mei-gradeplegtighede op daardie kampus.

 

Gedurende die drie dae van gradeplegtighede het ʼn volle 1 932 studente van die vyf fakulteite grade verwerf. ʼn Totaal van 16 doktorsgrade, 65 meestersgrade en 157 honneursgrade is toegeken. (Die kleiner gradeplegtighede op hierdie kampus word in Oktober gehou.)

 

Hierdie getal (tesame met al die ander graduandi van die ander kampusse) is genoegsame bewys van die universiteit se verbintenis om navorsing uit te bou, studente te ontwikkel en ʼn bydrae tot die nasionale ekonomiese ontwikkeling van die land te maak.

 

Hiervoor het ons ondersteuning nodig, wat ons weereens van Aspen Pharmacare ontvang het. Hierdie Suid-Afrikaanse maatskappy het beurse van R41 500 elk toegeken aan ses uitnemende MBA-studente van die nuut gestigte NWU Skool vir Besigheid en Korporatiewe Bestuur. Ons bedank Aspen en ander vennote wat ons in moeilike tye ondersteun.

 

Intussen dra ons personeel aktief by tot hierdie toekomsgerigte visie van uitnemendheid.

 

FR Bezuidenhout van die Institusionele Kantoor vir Tegnologieoordrag en Innovasiesteun was een van net vyf tegnologieoordragkenners van alle ontwikkelende lande ter wêreld wat onlangs gekies is vir die gesogte beurs van die Vereniging vir Universiteitstegnologiebestuurders.

 

Verder het die Sentrum vir Toegepaste Risikobestuur wat nou ʼn deeltydse meestersgraad aanbied (die eerste van sy soort in Suid-Afrika), hul eerste graduandi opgelewer. Dié studente het hul grade tydens die herfsgradeplegtigheid van die Vaaldriehoekkampus ontvang.

 

Erkenning is ook verleen toe ʼn totaal van 42 dosente op 8 April Institusionele Toekennings vir Onderriguitnemendheid verwerf het. Hierdie toekennings getuig van die innoverende en uitstekende onderrig op al ons kampusse.

 

Baie geluk aan almal!