Die Mafikengkampus het meer as 1 600 eerstejaarstudente verwelkom en nie eers die reënerige toestande kon die opwinding demper nie. Tydens sy toespraak het prof Dan Kgwadi, Rektor van die Mafikengkampus, die nuwelinge en hulle ouers die versekering gegee dat die Bestuur alles in hulle vermoë sal doen om te verseker dat leerfasiliteite aan studente beskikbaar gestel word. "As Bestuur is ons daartoe verbind om te verseker dat ons fasiliteite beskikbaar stel en leer vir studente fasiliteer," het hy gesê.
Op die Potchefstroomkampus het die nuut aangestelde kampusrektor, prof Herman van Schalkwyk, die ongeveer 4 300 eerstejaarstudente verwelkom. Volgens prof Van Schalkwyk is die deurvloeisyfer van studente goed en sal dit een van die belangrikste strategiese fokuspunte bly om die deurvloei van eerstejaars te verbeter. “’n Belangrike fokuspunt is navorsing, want dit is daardeur dat 'n universiteit homself posisioneer. Ons navorsingsuitsette neem steeds toe wat beteken dat ons toenemend 'n eie identiteit en nis kan ontwikkel en ons des te meer internasionaal kan vestig,” het hy gesê.
Die Vaaldriehoekkampus het ook 'n rekordgetal eerstejaars verwelkom. In vergelyking met 2009 was daar 900 studente meer wat suksesvol aansoek gedoen het om by die Kampus te studeer en volgens mnr Piet van Wyk – senior bemarker, het meer as 'n duisend eerstejaars deur die registrasieproses gegaan. Tydens sy eerste amptelike toespraak as die nuwe Kampusrektor het prof Thanyani Mariba die studente en hulle ouers bedank omdat hulle hu drome vir die toekoms aan die Universiteit toevertrou het. Die Rektor het die studente verder meegedeel dat om op 'n toekomstige loopbaan te besluit een van die grootste keuses is wat hulle ooit sal moet maak en dat hulle studente-ervaring 'n blywende effek op hulle lewensloop sal hê.
Volgens dr Theuns Eloff (NWU Visiekanselier) is die NWU tans die vierdegrootste universiteit in die land wat getalle betref. Die Universiteit is 'n erkende speler op die gebied van tersiêre onderrig – nie net ten opsigte van gehalteonderrig en -leer nie, maar ook wat gefokusde navorsing en die implementering van kundigheid betref.
 Die amfiteater op die Potchefstroomkampus was stampvol gepak met die nuwe eerstejaars en hulle ouers
 Die Vaaldriehoekkampus spog met twee pare identiese tweelinge tussen die geregistreerde eerstejaarstudente. Die tweelinge, Anzette en Leana Kotze en Janine en Cheryl Hundermark sal by die dagkoshuis Acacia aansluit. Agter van links is: Thato Mojakisane, Chrizette Waldechts, Nadine Laubsher, Michelle McCullum en Tisetso Masoeu – almal lede van Acacia se huiskomitee
 Eerstejaarstudente geniet die atmosfeer op die Mafikengkampus
|
|