NWU, Potchefstroomkampus, Nuus: Ikoon van Potchefstroomkampus word 80

Ikoon van Potchefstroomkampus word 80

Die inwyding van die hoofgebou (op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus) op 4 April 1931, vanjaar tagtig jaar gelede, was een van die groot feesdae in die geskiedenis van die destydse Potchefstroomse Universiteitskollege (PUK).

Hoofgebou 2041
  Dit volg ’n skamele drie jaar na die verslag van ’n universiteitskommissie van die regering wat daarop gesinspeel het dat die PUK moet sluit.  Die verslag is op 16 Julie 1928 bekendgestel.  Swak geboue, gebrek aan laboratoriumfasiliteite, ’n onvoldoende biblioteek, geringe getalle en groot personeeluitgawes is van die aspekte wat deurloop. Ander universiteite kom ook onder skoot en die verslag het landwyd nuusdekking geniet. 
  Die voorsitter van die studenteraad, WF Venter, se kommentaar verwoord die algemene gevoel onder personeel, studente en ondersteuners.  Die PUK is “wakker geskud.”
  ’n Maand ná die bekendstelling van die verslag begin die rektor van die PUK, prof Ferdinand Postma, met ’n fondsinsamelingsveldtog.  Hy het as “rondreisende ambassadeur” vir die PUK talle dorpe besoek en as gekwalifiseerde predikant in talle gemeentes gepreek.  Fondse het dadelik begin instroom.
  Verder rig die PUK op 17 Oktober 1928 ’n ernstige versoek aan die regering vir finansiële hulp ten bedrae van £60 000 vir die bou van ’n hoofgebou, laboratoria, uitrusting, losieshuise en skulddelging. Op 10 Desember verneem die universiteit dat £30 000 in die boekjaar 1929/30 beskikbaar gestel gaan word en die res die volgende jaar.
  Dit volg ook nadat die planne vir die voorgestelde geboue, insluitend die hoofgebou in November 1929 aan die departement van onderwys deurgegee is.
  Henri Louw van die argiteksfirma Louw & Louw van Bloemfontein het die kompetisie vir die opstel van die planne gewen.  Die bekende Gerhard Moerdyk het ook deelgeneem.  
  Louw het die gebou ontwerp in die styl van die Italiaanse Renaissance, vandaar die balkonne.  In 1985 vertel die 93-jarige Henri Louw dat die twee kenmerkende syvleuels van die gebou wat verwelkomend uitstrek, so bedoel was, terwyl die sewe boë voor ooreenstem met die sewe kandelare in die PUK se wapen.
  Die bestekopname is gedoen deur die Johannesburgse firma Babs en Landon en die bouwerk is verrig deur Oosthuizen en Sterrenberg.  Die koste vir die oprigting beloop uiteindelik £18 948.
  Dit is onbekend wanneer presies met bouwerk begin is, maar met die hoeksteenlegging op 4 Augustus 1930, het bouwerk al ver gevorder.  Die hoeksteen is gelê deur dr DF Malan, minister van onderwys. Die rede waarom die hoeksteenlegging so laat in die bouproses plaasgevind het, was omdat dr Malan weens parlementêre verpligtinge nie vroeër na Potchefstroom kon kom vir die geleentheid nie.
  Dr Malan het in sy toespraak gesê dat die PUK een van die beter begunstigdes is onder universiteite. “Gemiddeld dra die staat £5 by vir elke £2 wat die inrigting self versamel. Wat Potchefstroom betref, is die syfers £4 en £1.”
  Na die hoeksteenlegging is ’n verslag daaroor saamgestel uit onder meer beriggewing in Die Burger en Die Weste wat volledig verslag gedoen het oor die verrigtinge.  Dié verslag is in boekvorm uitgegee.
  Nadat kommandant AJ Alberts van Potchefstroom tydens die hoeksteenlegging aangekondig het, dat hy die senaatsaal vir ’n bedrag van £800 borg, het die “kamerstelsel” waarvolgens borge elk ’n vertrek of kamer in die gebou borg, sy grondslag gekry.  Verskeie persone en instansies van oor die hele land skenk geld en om erkenning aan die skenkers te gee, is ’n koperplaat met die naam van die borg daarvan in elke vertrek aangebring.  Dié koperplate is later verwyder en word vandag in die NWU Argief en Museum uitgestal.
  Presies agt maande na die hoeksteenlegging, op 4 April 1931, vind die amptelike ingebruikneming plaas.  Nog ’n Malan, hierdie keer senator FS Malan, neem die amptelike opening waar. Vir sy bydrae om van 1919 tot 1921 die PUK te ondersteun om wetlike erkenning te kry, word die goue sleutel waarmee die gebou oopgesluit is aan hom oorhandig.
  Die feesvieringe duur die middag voort.  Na ’n noenmaal in die Kings Hotel, vind verskeie sportwedstryde plaas.  Die hoogtepunt was ’n rugbywedstryd tussen studente en oudstudente van die PUK. 
  Dié aand word die gebou “sierlik verlig” met ’n reuse kandelaar wat voor die gebou opgerig is.  ’n Vuurwerkvertoning en ’n sosiale byeenkoms in die saal sluit die verrigtinge af.
  Tydens die ingebruikneming is benewens die administratiewe kantore, ’n hele paar akademiese departemente en die biblioteek in die hoofgebou gehuisves.
  Dit is juis ’n brand wat die biblioteek van die Universiteit van die Witwatersrand in 1931 verwoes het, wat die PUK genoop het om sy biblioteek van die ou sinkbarakke na die hoofgebou te verskuif waar dit in die noordoostelike vleuel ingerig is.
  Op 23 Februarie 1949, pas na die studente van vakansie teruggekeer het, veroorsaak ’n kortsluiting in die elektriese bedrading van die hoofgebou dat ’n brand in die biblioteek uitbreek. 
  Die brand kon beperk word tot die eerste verdieping se noordoostelike vleuel, maar die biblioteek is in puin gelê.  Dit word bereken dat 30 000 boeke en 4 000 tydskrifte in die slag gebly het. Van die onvervangbare items was oorspronklike manuskripte van die werke van die skrywer Jan F. Celliers.
  Skenkings in die vorm van boeke en geld is van oor die hele land ontvang. Daar is dadelik begin om planne te maak vir ’n nuwe moderne biblioteekgebou en die hoeksteen daarvan is in Maart 1951 gelê.
  Tans huisves die hoofgebou die Fakulteit Regte, heel waarskynlik die enigste fakulteit op die kampus wat die langste in een gebou gehuisves word.
  Op 11 Mei 1984 is die hoofgebou tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.
  In die tagtig jaar van sy bestaan het die hoofgebou nie net die ikoon van die PUK, later PU vir CHO en tans die NWU se Potchefstroomkampus geword nie, dit is ook sinoniem met Potchefstroom.
Berig deur Lennie Gouws.

 Gepubliseer deur Kiewiet Scheppel op 10 Mei 2011.