Printer-friendly version
Print
Share this
 

Akademiese mobiliteit versterk hoër onderwys in Afrika

Institusionele Kantoor – Die Noordwes-Universiteit (NWU) is een van agt vennote wat aan die Afrika-, Karibiese- en Stille Oseaan-staatsgroepprojek (ACP-projek) vir akademiese mobiliteit, wat deur die Europese Unie befonds word, gaan deelneem.
Hierdie uitruilprogram moedig die uitruil van kennis, vaardighede en ervarings tussen vennoot-universiteite deur middel van omvattende beurse aan.

Die agte vennote is Ardhi (Tanzanië), Buea (Kameroen), Hawassa (Ethiopië), Makerere (Uganda), KNUST (Ghana), NWU (Suid-Afrika), Politegnikum van Namibië (Namibië) en die Universiteit van die Vrystaat (Suid-Afrika).

Die program, wat as STREAM (Strengthening African Higher Education Through Academic Mobility) sal bekendstaan,  is daarop gemik om toegang tot kwaliteit-hoëronderwys vir studente, personeel en akademici te verhoog en sodoende hulle in staat te stel om voordeel te trek uit die ervaring opgedoen binne die konteks van mobiliteit na ‘n ander land.  Hierbenewens word ACP-studente ook aangemoedig om nagraads  te studeer en die behoud van studente in die streek te bevorder terwyl die mededingendheid en aantreklikheid van die instellings self toeneem.

Die Potchefstroomkampus van die NWU sal na verwagting binnekort met hierdie program begin.  Aanvanklike advertensies sal regoor Afrika vir belangstellende aansoekers uitgestuur word.

Elke vennootinstelling is verantwoordelik vir die keuring van hulle aansoekers en moet 'n kortlys en 'n reserwelys opstel.

Prof Nicholas Allen, NWU-Direkteur: Internasionale Skakeling het gesê: “Weens die ontsaglik prestige wat hierdie projek vir ons instelling se missie bied, is dit baie belangrik dat die NWU positief op hierdie geleentheid reageer.”

Vir meer besonderhede oor hoe om aansoek te doen en vir verdere inligting, besoek
http://intra-acp.polytechnic.edu.na

Agter van links na regs: Dr Anna Matros-Goreses (Direkteur: Navorsingsdiensentrum, Politegnikum van Namibië), me Neavera Olivier (Direkteur: Beplanning en Internasionale Verhoudings. Politegnikum van Namibië), mnr Kobby Yebo-Okrah (Registrateur: Kwame Nkrumah Universiteit van Wetenskap en Tegnologie, Ghana), mnr Lameck Mawewa (Dekaan: Skool vir Natuurlike Hulpbronne en Toerisme, Politegnikum van Namibië), mnr Ernest Adu-Gyamfi  (administratiewe beampte: Kwame Nkrumah Universiteit van Wetenskap en Tegnologie, Ghana), prof Nicholas P L Allen (Direkteur: Internasionale Skakeling, NWU, Suid-Afrika), me Tshegofatso Phage (NWU-STREAM-koördineerder) en me Sonja Yolande Samuels (sekretaresse van die Dekaan: Skool vir Natuurlike Hulpbronne en Toerisme, Politegnikum van Namibië).
Voor van links na regs: Me Taimi Nangula Itembu (Internasionale Skakelbeampte: Politegnikum van Namibië), prof Nalova Lyonga (Adjunk-visekanselier: Onderrig, Universiteit van Buea, Kameroen), prof Frikkie van Niekerk (Adjunk-visekanselier: Navorsing, Innovasie en Tegnologie, NWU, Suid-Afrika), prof Joyce Endeley (Hoof, Universiteit van Buea, Kameroen) en prof Mengiseny E Kaseva (Adjunk-visekanselier: Akademiese Aangeleenthede: Ardhi Universiteit, Tanzanië).