Printer-friendly version
Print
Share this
 

Uitkoms: Onafhanklike ondersoek na die verdrinking van Thabang Makhoang op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit

Institusionele Kantoor – Die verslag van die onafhanklike ondersoek deur advokate Lourens de Koning (SC) en Vusi Pikoli na die tragiese dood (op 21 Januarie 2012) van ʼn eerstejaarstudent aan die Potchefstroomkampus is gefinaliseer en voorgehou aan die Visekanselier, dr Theuns Eloff, op 15 Maart 2012. Op ʼn vergadering van die Raad se Uitvoerende Komitee op 20 Maart is besluit dat die verslag op ʼn spesiale Raadsvergadering op 30 Maart ter tafel gelê moet word.

Ná beraadslaging is die verslag sowel as die aanbevelings deur die Raad aanvaar. Die Raad het hul waardering uitgespreek vir die omvattendheid van die ondersoek en die daaruit voortspruitende verslag. Die opdrag van die komitee wat die onafhanklike ondersoek gedoen het, was as volg:
Om ondersoek in te stel, verslag te doen, en bevindinge en aanbevelings te maak met betrekking tot:
*    die omstandighede rondom die dood van Thabang Godwin Makhoang tydens ʼn vrugtefees-geleentheid op die Fanie du Toit-sportterrein op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit op 21 Januarie 2012;
*    die vraag of sy dood plaasgevind het tydens ʼn aktiwiteit wat deel was van die amptelike ontvangs- en bekendstellingsprogram of tydens ʼn sogenaamde “ontgroeningsproses”;
*    die organisering, implementering, inhoud en aktiwiteite van 2012 se Ontvangs- en Bekendstellingsprogram vir eerstejaars van die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit; en
*    die bestaande reëls, beleide en optrede in hierdie verband by die Noordwes-Universiteit – ten einde te bepaal of die Raad en bestuur wel hul verpligtinge nagekom het en/of enige veranderings nodig is.

In die lig van bogenoemde het die ondersoek die volgende bevind:

*    Geen misdaad is gepleeg nie, en geen persoon of entiteit kan weens nalatigheid of andersins aanspreeklik gehou word vir die sterfgeval nie. Die verdrinking was ʼn fratsongeluk te midde van elke denkbare voorsorgmaatreël; dit het plaasgevind tydens ʼn gebeurtenis wat uitsluitlik vir pret en spanbou georganiseer is, en nie tydens enige vorm van ontgroeningspraktyk nie.

*    Alhoewel geen opgeleide en professionele lewensredders aan diens was tydens die voorval nie, is dit onwaarskynlik dat só iemand se teenwoordigheid enige verskil sou maak, veral in die lig van die feit dat geeneen van die vele toesighouers wat rondom die swembad ontplooi was, agtergekom het dat die oorledene in enige nood verkeer het nie.  Tydens die voorval was daar ses lede van die Potchefstroomkampus-nooddienste, 28 ewekniehelpers en 25 lede van die Ontvangs- en Bekendstellingskomitee teenwoordig.  Buiten hulle was daar ook twee ER24-ambulanse en ses tot sewe personeellede naby die swembad.

Die Raad se gevolgtrekking is dat die aanbevelings in die verslag in die algemeen as positief beskryf kan word en dat die aspekte wat daarin vervat is – waarvan baie alreeds geïmplementeer is – weer bekyk en uitgebrei moet word.

Alhoewel die ondersoek bevind het dat die universiteit nie nalatig was nie, is die Raad tevrede met die universiteitsbestuur se voorstelle met betrekking tot toekomstige uitreikprogramme by die Reabona Sekondêre Skool en in die Tswelelang-gemeenskap, sowel as verdere hulpverlening aan die gesin van wyle Thabang Makhoang. Gesprekke in hierdie verband is reeds geïnisieer en die uitkoms sal gekommunikeer word sodra alle prosesse in plek is.

Prof Herman van Schalkwyk, die rektor van die Potchefstroomkampus het op 3 April 2012 die verslag persoonlik aan die moeder van die oorledene, me Sanna Makhoang, in teenwoordigheid van haar regsverteenwoordiger oorhandig en verduidelik.

Vir die volledige verslag, klik hier.

Uitgereik deur Louis Jacobs namens die Raad van die Noordwes-Universiteit.
Navrae:    

Mnr Peet van der Walt – Voorsitter, Raad van die Noordwes-Universiteit
082 465 2381
Dr Theuns Eloff, Visekanselier, Noordwes-Universiteit
082 806 4956
Prof Herman van Schalkwyk, Rektor van die Potchefstroomkampus
082 940 7830

Datum:        3 April 2012