Printer-friendly version
Print
Share this
 

Nasionale Persklub – Noordwes-Universiteit se Joernalis van die Jaar-toekenning

Barry Bateman van Eyewitness News is die Nasionale Persklub – Noordwes-Universiteit se Joernalis van die Jaar vir 2011.

Bateman is beloon vir sy deursettingsvermoë, sy aanvoeling vir feitelik korrekte verslagdoening en vir sy werk onder geweldige sperdatumdruk. Sy taaie volharding met die storie oor die Tshwane-metropolisie se gebruik van voertuie met vals nommerplate is ʼn uitstekende voorbeeld van uitnemende joernalistiek.

Die toekennings is gemaak by die Nasionale Persklub – Aon Suid-Afrika Nuusmaker van die Jaar-funksie in Pretoria.
 
Thabiso Thakali van die Saturday Star is die gedrukte nuus-kategorie se joernalis van die jaar vir sy portefeulje van uitstaande joernalistiek.

Jane Vorster van HUISGENOOT het die gedrukte hoofartikels-kategorie gewen vir die eerste aangesig-tot-aangesig-onderhoud ooit met Pieter Dirk-Uys en Evita Bezuidenhout – hy/sy beantwoord gewoonlik slegs op geskrewe vrae van die media.

Craig Nieuwenhuizen van Foto24 het die fotografie-kategorie gewen vir sy foto van ʼn polisieman wat ʼn kind red tydens die uitsetting van mense uit die Schubart Park-woonstelblok in Pretoria.

Thebeetsile Keameditse van die SAUK was die wenner in die radioprogram-kategorie vir sy artikels oor elektroniese bankdienste in die platteland en oor moderne besnydingstegnieke.

Lirandzu Themba van e.tv is die wenner in die TV-nuus-kategorie vir die onbevooroordeelde verslagdoening oor die Schubart Park-uitsetting in Pretoria.

Odette Schwegler en Nocola de Chaud van Carte Blanche is die gesamentlike wenners in die kategorie vir televisie-programme met hul verslagdoening oor baba-aannemingstussengangers en die ondersoek na wanpraktyke van die Johannesburgse brandweerhoof.

Tutuko Zondi van e.tv is die televisiekameraman van die jaar vir ʼn uitstekende portefeulje, insluitende ‘The Indian vote” in KwaZulu-Natal.

Taurai Maduna van Eyewitness News het die aanlynkategorie gewen vir sy verslagdoening oor die mishandeling van platinumwerkers aan die Johannesburgse Oosrand.

Mandy Wiener, ook van Eyewitness News, het die sosiale media-kategorie gewen vir haar verslagdoening oor die Selebi-hofsaak.

McIntosh Polela van die Valke is aangewys as Mediaskakelbeampte van die Jaar vir sy interaktiewe en professionele interaksie met die media.

Nic Dawes, Redakteur van die Mail & Guardian is aangewys as Redakteur van die Jaar vir sy onwrikbare standpunt oor uitnemendheid en sy verbintenis tot die stryd vir persvryheid.

Die Nasionale Persklub – Noordwes-Universiteit se Joernalis van die Jaar het R10 000 gewen terwyl die kategoriewenners R5 000 elk ontvang het, geborg deur die Noordwes-Universiteit.

Die inskrywings is beoordeel deur ʼn paneel onafhanklike kundiges en akademici.

Charles Naudé is ʼn mediakonsultant, Cornia Pretorius is ʼn senior lektor in joernalistiek in die Skool vir Kommunikasiestudies aan die Noordwes-Universiteit, en Gilbert Mokwatedi is ʼn kommunikasiepraktisyn by Unisa. Peter Morey bedryf al 16 jaar lank sy eie fotografiese ateljee nadat hy baie jare lank as fotograaf werksaam was by die Pretoria News, en Marion Scher is ʼn bekroonde vryskutjoernalis wat skryf vir verskeie van Suid-Afrika se groot verbruikerspublikasies. Natalia Rosa werk by Now Media as besturende redakteur van Travel News Weekly en Southern African Tourism Update, Pluto Panoussis is ʼn dosent aan die Open Window School for Visual Communication, en Tshamano Makhadi is ʼn veelbekroonde Suid-Afrikaanse joernalis.

Volgens Theuns Eloff, Visekanselier van die Noordwes-Universiteit, het die toekennings hul doel gedien as dit kan help om die gehalte van joernalistiek in die land nóg verder te verbeter.

“Die NWU deel joernaliste se kommer dat die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting ernstige implikasies kan inhou vir die vryheid van inligting en die vryheid van joernalistieke vryheid. Ons gee om vir ons demokrasie en ons duurgekoopte vryheid. Die land se internasionale reputasie het reeds skade gely weens die impak van die wetsontwerp, en ons deel u ongemak oor Suid-Afrika se swakker wordende posisie op die Verslaggewers sonder Grense-skaal, vanaf 33/179 in 2009, tot 39/172 in 2010 en 42/179 in 2011 op die persvryheidskaal.
 
“Ons doen ʼn beroep op die regering om weer ʼn keer te dink oor die taal en retoriek van die huidige debatte oor die vloei van inligting. Frases soos ‘nasionale sekuriteit’ herinner sterk aan die taal van die destydse apartheidsregering en is totaal onversoenbaar met die nuwe demokratiese etos en die waardes van vryheid, gelykheid en menswaardigheid wat ons graag verwesenlik wil sien in alle lewensfasette in Suid-Afrika.

“Desnieteenstaande ag ons onsself gelukkig om deel te kan wees van hierdie prestige-gebeurtenis. Ons wens alle wenners geluk en vertrou dat ons bydrae iets sal voeg by die uitnemendheid wat tans so duidelik sigbaar is in die Suid-Afrikaanse mediawese.”

Vir meer inligting, skakel:
Martin van Niekerk
Sekretariaat: Nasionale Persklub
Tel 012 804 5199 / 083 447 4864
Datum: 23 Maart 2012