Printer-friendly version
Print
Share this
 

NWU tuiste van SA Instituut vir Ernstige Speletjies

Vanderbijlpark  – Die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit is die tuiste van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Ernstige Speletjies (SGI-SA) – wat geaffilieer is by die International Serious Games Institute wat in Coventry Universiteit in die Verenigde Koninkryk gesetel is. Dit is ʼn innoverende en tegnologiegebaseerde samewerkingspoging tussen die twee hoëronderwysinstansies.

Speletjies bied ʼn veilige milieu vir eksperimentering, mededinging, samewerking en ontwikkeling. In die lig van die immer veranderende omgewing – ʼn gevolg van die digitale revolusie – bied ernstige speletjies ʼn akademiese sowel as ʼn kommersiële alternatief vir onderwys en opleiding, besigheidsmodellering, virtuele konferensies en toegepaste navorsing.

Volgens mnr Werner Ravyse, Projekbestuurder van die SGI-SA, behels hierdie samewerkingspoging die gebruik van speletjiestegnologie, rekenaarmodelleringsimulasies en die gebruik van digitale interaktiewe media ter
ondersteuning van meer ernstige aktiwiteite. “Ernstige speletjies verwys na ʼn groot verskeidenheid toepassings, van basiese Adobe Flash-animasies tot ingewikkelde en kodegedrewe 3D-omgewings (speletjies) waar groot volumes data en gesofistikeerde en interaktiewe digitale koppelvlakke ter sprake is,” verduidelik Werner.

SGI-SA werk tans deur sy beginfase met die doel om twee hoofweë van implementering tot stand te bring, te wete akademies en kommersieel. Wat die akademiese toepassing betref, word die ontwikkeling van nagraadse kwalifikasies m.b.t. ernstige speletjies sowel as die generering van navorsingsuitsette in die vooruitsig gestel, terwyl die kommersiële doel is om die kennis wat daaruit geput kan word te bevorder – wat strek vanaf versnelde personeelopleiding tot risikovermindering vir die privaat- en openbare sektor.

Die dryfkrag agter SGI-SA is prof Herman van der Merwe, Dekaan van die Fakulteit Ekonomiese Wetenskappe en Inligtingstegnologie. Volgens hom is dit hoog tyd dat ons speletjies meer ernstig moet begin opneem.



By die bekendstelling van die SGI-SA was, van links na regs: prof Thanyani Mariba (Kampusrektor), prof Linda du Plessis (Viserektor: Akademie, Kwaliteit en Beplanning), prof Herman van der Merwe (Dekaan: Fakulteit
Ekonomiese Wetenskappe en Inligtingstegnologie), Kgosi Leruo Molotlegi (NWU-Kanselier) en mnr John Latham
(Provisekanselier van die Coventry Universiteit)