
Studente wen altesame R67 000 met innovasies
Die eersteprys van R20 000 in die NWU se Innovasiekompetisie 2011 is met ‘n patenteerbare projek van ‘n doktorale student in farmaseutika gewen.
RW Odendaal van die Eenheid vir Geneesmiddelnavorsing en -ontwikkeling se projek behels om ‘n breë-spektrum antibiotikum (Azithromycin) beter oplosbaar in water te maak. Dié geneesmiddel word die meeste voorgeskryf in die wêreld. Aangesien dit baie swak in water oplos, word die biobeskikbaarheid daarvan in die farmakologiese werking ook belemmer. Odendaal se projek, Amorphous glass azithromycin, is ‘n unieke vorm wat gemaak is wat 339% meer wateroplosbaar is, wat in laer dosisse voorgeskryf kan word en uiteraard meer kostebesparend sal wees.
|
Van links is dr Rudi van der Walt (tegnologie-oordrag en innovasie-ondersteuningskantoor), mnr Gerard Moerdyk (fisika), RW Odendaal (wenner) en prof Herman van Schalkwyk (kampusrektor). |
|
Die groep van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte wat drie pryse gewen is (voor) proff Amanda Lourens (viserektor: navorsing en beplanning), Jan Swanepoel (dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte), Martin Schlemmer, Willem Basson en Marissa Griesel. Agter is Wildrich Fourie, Martin Puttkamer, prof Herman van Schalkwyk (kampusrektor) en Wikus Pienaar. |
Altesame 130 inskrywings is vir kompetisie ontvang. Mnr Gerard Moerdyk van die fisika-vakgroep het tydens die prysuitdeling gesê vyf van die projekte is gekeur vir kategorie A (patenteerbare projekte met ‘n besigheidplan) en sewentien vir kategorie B (toekomstige kategorie A-projekte). ‘n Totaal van R67 000 is in prysgeld vir dié projekte uitbetaal.
Moerdyk het gesê die kompetisie is vanjaar op universiteitsvlak aangebied, aangesien die Nasionale Innovasiefonds vanjaar besluit het om nie die nasionale kompetisie van stapel te stuur nie. Die NWU het in 2005 drie inskrywings onder die beste twaalf van die nasionale kompetisie gehad.
Met die samewerking van die viserektor: navorsing en beplanning, prof Amanda Lourens, en dr Rudi van der Walt van die NWU se tegnologie-oordrag en innovasie-ondersteuningskantoor is besluit om voort te gaan met die kompetisie op kampusvlak. Van der Walt het die projek vanjaar finansieel ondersteun.
Moerdyk het gesê die kompetisie se doel is om innovasie op die kampus en onder studente aan te wakker.
Drie projekte wat almal verras het (omdat die persepsie bestaan dat ingenieurs gewoonlik die innoverende mense is) is vanaf die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte ontvang. Twee wenprojekte in kategorie A was eerstens die SpaMiNot van Dirk Snyman, Wildrich Fourie en Cindy McKellar. Dié toepassing vir slimfone (smart phones) kan gemors-SMS’e herken en na ‘n aparte vouer op die foon stuur.
Die ander wenprojek in kategorie A is die annotasiehulpmiddel (TARA), van Martin Puttkamer, Martin Schlemmer en Willem Basson. TARA maak dit vir taalkundiges makliker om annotasie tot teks- of spraaksegmente te voeg en kwaliteitskontrole op die annotering te doen.
CText se weninskrywing, Computer Assisted Language Learning for MarkWrite Remediation Centre, in kategorie B is deur Marissa Griesel, Wikus Pienaar en Ruan Bekker ingedien en as die top-opkomende innoverende idee en besigheidsplan bekroon.
Die volledige lys van wenners is:
Kategorie A:
Amorphous Glass Azithromycin – R20 000
SpaMiNot (Intelligent SMS spam filter) – R12 000
Aquatec Remote Control Sluice – R12 000
Transcription and Annotation Regulation Assistant (TARA) – R12 000
Performi Focus (Systematic approaches to Sport Psycology) – R2 000
Kategorie B:
Computer Assisted Language Learning for MarkWrite Remediation Centre – R5 000
Dynamic axle scale – R1 000
Automatic Alcohol Vending Machine – R1 000
Bulletproof vest – R1 000
Geo-shifting Golg Course – R1 000


