
NWU-navorser plaas internasionale soeklig op marine-puin
'n Besoek aan 'n afgesonderde eilandgroep sowat 430 kilometer noordoos van Mauritius om voëleiers te versamel vir gifstofanalises het 'n navorser van die Noordwes-Universiteit met verskeie navorsingsvooruitsigte gelaat.
Prof Henk Bouwman, 'n dierkundige van die Skool vir Omgewingswetenskappe en Ontwikkeling kon na dié besoek help om 'n internasionale fokus te plaas op marine-puin in die Indiese Oseaan, wat onder meer met seestrome op die St Brandon’s Eilande beland. Hierdie eilande is 'n atol.
|
Tot 600 000 Roetsterretjies is op een eiland, Albatros-eiland, getel. |
|
Van die afval en puin wat op die St Brandon’s Eilande uitgespoel het. |
Bouwman is ook 'n paneellid van STAP (Scientific and Technical Advisory Panel) van die Global Environment Facility (GEF) wat internasionale beleidsadvies oor chemikalieë en osoon-afbrekende chemiese stowwe in die omgewing lewer.
Bouwman, dr Steven Evans, 'n na-doktorale student aan die NWU, en dr Nik Cole van die Durrell Wildlife Conservation Trust van die Jersey Channel-eilande, het die St Brandon’s Eilande vroeër vanjaar besoek. Hulle het ook samewerkingsooreenkomste met die Universiteit van Mauritius.
Die doel van die besoek was eerstens om te bepaal of enige besoedelingsvlakke in voëleiers op dié afgeleë plek opgetel kan word. Aangesien die eilande in 'n baie laevlak besoedelingsarea geleë is waar byna geen mense woon nie, sal die eiers enige globale veranderinge in besoedelingstendense dadelik wys.
Die tweede doel van die besoek was om die voëls op die eilandgroep te tel. Bouwman sê die voëls op dié eilande is nog nooit volledig getel nie en hulle kon vasstel dat meer as 1,2 miljoen voëls op van die onbewoonde eilandjies nesskop. Dit is hoofsaaklik Roetsterretjies, Feësterretjies, Bruinsterretjies, fregatvoëls en 'n verskeidenheid waadvoëls, wat onder meer van Indië daarheen migreer het, wat daar voorkom.
Bouwman sê 'n superkolonie van sowat 600 000 Roetsterretjies is op een eiland, Albatros-eiland, getel. “Die lawaai van soveel voëls is oorverdowend.”
Hy sê hulle het aanvanklik vermoed dat daar heelwat rommel en plastiekafval op St Brandon’s sou voorkom en het die derde doel van die besoek gevorm. Weens dié vermoede, het hulle het die regte protokolle saamgeneem om die afval te kon kwantifiseer. Van plastiekbottels, gasbottels, buisligte, strandplakkies, speelgoed en blikke het op die eilande uitgespoel.
Bouwman sê dit kom vermoedelik van Indonesië, Maleisië en ander lande uit die gebied, aangesien die seestrome so beweeg dat die gemors wat dryf, uiteindelik op die eilande uitspoel. “Baie van die handelsmerke op die puin kon na hierdie lande herlei word.”
Bouwman het in samewerking met Evans, Cole en navorsers van Mauritius, Noorweë en die GEF 'n plakkaataanbieding by 'n internasionale kongres oor marienepuin in Hawaii gedoen, waar dit die enigste bydrae vanuit die Indiese Oseaan was.
Hy het ook saamgewerk aan 'n adviesverslag vir STAP oor marine-afval wat as 'n wêreldwye omgewingsbesoedelingsprobleem gesien kan word. Dié verslag is positief by die bestuursvergadering van die GEF ontvang. “Mariene-puin is dus nou op die internasionale agenda geplaas vir ontwikkelingshulp wat omgewingsprobleme betref. Die GEF se begroting vir ontwikkelingshulp vir omgewingsprojekte beloop sowat $4,25 biljoen. Die gevolge wat marine-afval vir besoedeling inhou op afgeleë plekke soos die St Brandon’s Eilande, waar byna geen mense woon nie, was die aansporing vir dié verslag.”
Bouwman sê die verslag het reeds vrugte afgewerp aangesien marine-afval hoog op die internasionale agenda geplaas is om omgewings-befondsing daarvoor te bekom. “Daar is ook inisiatiewe onderweg om sekere van die eilande waarop rotte voorkom by St Brandon’s, skoon te maak. Daar is geen soogdiere op die eiland nie, en die rotte, wat van skepe af kom, het die voëlbevolkings uitgewis.”
Hy sê hulle beplan om terug te keer na St Brandon’s en soortgelyke afgeleë eilande, om navorsing te doen of plastiek-afval die ekologie van eilande nadelig beïnvloed, asook hoe die konsentrasie van plastiekprodukte geïsoleerde oseaniese eilande affekteer. “Die benadering sal wees oor hoe die voedselweb moontlik hierdeur benadeel word. Chemiese stowwe in die plastiek kan uitloog en deur die koraal en visse opgeneem word. Die eilande is 'n pragtige hawe vir biodiversiteit, waar nog heelwat haaie, rogge, seeskilpaaie en ander fantastiese koraalbewoners voorkom.”
|
'n Roetsterretjie by 'n kuiken en van haar eiers op die eiland. |
Feësterretjies vorm 'n pragtige kontras met die helder blou lug. |
|
Die idilliese omstandighede op van die eilande in die St Brandon’s atol in die Indiese Oseaan. |
|
|
Twee van die navorsers, dr Steven Evans en dr Nik Cole, neem foto’s van die duisende voëls op die eilande. |
|
|
Die eilande van St Brandon’s is baie na aanmekaar geleë en kan selfs per voet bereik word. Talle van die eilande is onbewoon. |
|


