
VAALDRIEHOEKKAMPUS
Profiel
Die Vaaldriehoekkampus is in ’n geproklameerde natuurreservaat op die walle van die Vaalrivier gelê en is ’n besielende agtergrond vir werk en speel. Die studente se slaagkoers is bogemiddeld, die akademici is gemotiveerd en goed gekwalifiseerd, en die navorsing-, sport-, studentesteun- en kulturele geriewe is uitstekend.
Alhoewel die Vaaldriehoekkampus die kleinste van die NWU se drie kampusse is, het dit die afgelope paar jaar rekordgroei beleef. In 2012 was daar 6 100 studente. Die gemiddelde slaagkoers vir al die modules wat op die kampus aangebied word, was 82,4%, wat hoër is as die norm wat deur Suid-Afrika se Departement van Onderwys gestel word.
Een rede vir die kampus se deurlopende sterk akademiese prestasie is die vaardigheidsprofiel van sy akademiese personeel. Vier en tagtig persent van al sy lektore het meesters- of doktorsgrade en 30% is besig met nagraadse studies.


Op akademiese gebied fokus die kampus se op programme in die ekonomiese wetenskappe, inligtingstegnologie en die geesteswetenskappe. Hierdie programme word deur twee fakulteite aangebied:
- Die Fakulteit Ekonomiese Wetenskappe en Inligtingstegnologie, bestaan uit drie skole - Ekonomiese Wetenskappe, Rekeningkundige Wetenskappe en Inligtingstegnologie.
- Die Fakulteit Geesteswetenskappe bestaan uit vier skole (Tale, Gedragswetenskappe, Basiese Wetenskappe en Opvoedkundige Wetenskappe). Drie lektore van die Skool vir Opvoedkundige Wetenskappe het onlangs erkenning vir hulle kundigheid ontvang deur middel van toekennings of toelaes van organisasies soos die Suid-Afrikaans-Nederlandse Navorsingsprogram van Alternatiewe in Ontwikkeling (SANPAD) en die Opvoedkundevereniging van Suid-Afrika (OVSA).

Hierbenewens bied die Vaaldriehoekkampus deur sy Eenheid vir Vaardigheidsontwikkeling kortkursusse en werkswinkels op verskeie gebiede aan.
Studente- en akademiese geriewe is uit die boonste rakke danksy ’n opgradering van R30 miljoen. Die biblioteek en studentekoshuise is onder andere opgeknap, nuwe lesingsale word gebou en ’n nuwe krieketveld en klubhuis word ontwikkel.
Die kampus het ’n lewendige reputasie vir uitnemendheid in sport en kultuur. Dit het sy eie krieketakademie en fietsry-akademie, asook ’n roeiklub wat by Roei SA geregistreer is. Liggaamsbou het as gewilde sportsoort onder die studente ontwikkel.
Kultureel is die studente van die kampus bekend vir hulle debatteervaardighede.


