Vrouemaand

Wanneer ons Vrouedag herdenk, salueer ons die vroue wat in ons gesinne, ons universiteit, ons gemeenskappe en ons land ’n belangrike rol gespeel het en dit steeds doen. Ons doen dit deur weer te dink aan hulle prestasies en die vooruitgang wat hulle gemaak het om sistemiese hindernisse te oorkom terwyl hulle floreer en inspireer.

By die NWU is daar tallose individuele vroue – studente, personeel, alumni, raadslede, ondersteuners en vriende – wat ’n ongelooflike en baanbrekende impak regoor talle dissiplines gemaak het. Hulle diversiteit is net so omvangryk en waardevol as die sektore waar hulle diens lewer, en ons kyk steeds op na hulle vir inspirasie en leiding.

Te midde van die huidige golf geslagsgebaseerde geweld teen vroue en meisies in Suid-Afrika is vandag ook ’n geleentheid vir almal van ons om ons stemme dik te maak en vir hulle in die bres te tree en gelykheid te bepleit.  

Dr Lynndle Square, ’n ware vrou van die wetenskap 

Vir dr Lynndle Square, ’n senior lektor by die Sentrum vir Ruimtenavorsing van die Noordwes-Universiteit (NWU), is ’n loopbaan in wetenskap een met oneindige moontlikhede. Hierdie baanbreker het ’n BSc-graad met spesialisering in Toegepaste Wiskunde, ’n BSc Honneurs-graad in Fisika, ’n MSc in Fisika – wat sy binne ’n jaar verwerf het – en ’n PhD in Fisika. 

“Ek het deur my studies vaardighede in berekende vloeistofdinamika, molekulêre dinamika en digtheidsfunksionaalteorie verwerf.  Ek hoop dat hierdie unieke stel vaardighede waarde sal toevoeg tot die uitmuntende werk wat by die Sentrum vir Ruimtenavorsing gedoen word,” sê dr Lynndle. 

Sy het in 2019 by die NWU aangesluit en gee tans vir eerste- en tweedejaarstudente klas. Sy het vaardighede in berekende gekondenseerdematerie-fisika en sal ook materiale vir ruimtetoepassings ondersoek.

Sy sê dat haar doelwit is om studente wat ’n soortgelyke passie het, op te lei en toe te rus. “Ek hoop dat my studente deur eerstehandse ervaring sal ervaar dat fisika oral is,” sê sy.

Dr Lynndle moedig vroue wat na haar opsien aan om altyd hulle beste te lewer, selfs al sien niemand dit nie.  Sy sien haarself in die volgende vyf jaar as ’n medeprofessor met ’n span studente wat buitengewone dinge op hulle gebied doen.

Lerato Donga: NWU-student baan nuwe weë in die skoonheidsbedryf

Lerato Donga, ’n voormalige student van die Fakulteit Opvoedkunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU), het bewys dat ouderdom bloot ’n getal is.

Hierdie 24-jarige baanbreker bedryf tans ’n suksesvolle skoonheidsonderneming, Make Up By Beautified.

Die besigheid bestaan uit ’n skoonheidsateljee, ’n opleidingsakademie en haar eie grimeringreeks, LD Cosmetics.

Sy het aan die einde van verlede jaar haar grimeringreeks bekendgestel en dit is sedertdien ’n groot sukses.

Met Suid-Afrika se skoonheidsbedryf wat net meer as R27 miljard (2017) werd is, behoort meer as 85% van die markaandeel aan wêreldwye skoonheidshandelsmerke soos Revlon, L’Oréal, Elizabeth Arden, Estee Lauder en MAC.

Lerato se LD Cosmetics is Suid-Afrika se antwoord op en strawwe mededinger van hierdie gevestigde handelsmerke.

LD Cosmetics bied verskillende skoonheidsprodukte, insluitende oogskadu’s, pasgemaakte grimeerkwassies en oogomlyners.

Lerato sê dat sy geïnspireer is deur onafhanklikheid en die talle vroue-entrepreneurs wat ander vroue bemagtig.

“Dit was nie maklik om my besigheid te begin nie. Ek het gesukkel om te kom waar ek vandag is, en ek voel dat vroue meer geleenthede verdien om hulleself te bemagtig. Dit is waarom ek besluit het om dit ook aan ander deur te gee en om die vroue van my gemeenskap te bemagtig.”

 Lerato Donga se LD Cosmetics gaan die Suid-Afrikaanse skoonheidsmark oorrompel.

Natascha Viljoen​: NWU-alumna is Amplats se HUB

Natascha Viljoen, alumna van die Noordwes-Universiteit (NWU), verskuif nie net grense nie, maar sy hou ook die universiteit se naam hoog. Sy is vroeër hierdie jaar as die nuwe hoof- uitvoerende beampte van Anglo Platinum (Amplats) aangestel.

Natascha het op 16 April haar nuwe rol ingeneem. Sy is die eerste vrou wat aan die hoof staan van die wêreld se grootste produsent van platinum, Amplats.

Sy het in Klerksdorp, ’n klein myndorpie in Noordwes, grootgeword en dit is dus geen wonder dat sy ’n liefde vir die mynbedryf het nie. Sy het in 1991 haar BIng-graad aan die NWU verwerf.

Haar loopbaan strek oor byna drie dekades en sy het al vir ’n paar van Suid-Afrika se top-mynmaatskappye gewerk. Hierdie metallurgiese ingenieur is tans die groephoof van prosessering by Anglo American.

Die NWU wens Natascha baie geluk en voorspoed met haar nuwe opwindende onderneming toe.

Farzeen Bootha: NWU-alumna maak finansiële sin 

Farzeen Bootha, ’n alumna van die Noordwes-Universiteit (NWU), maak groot opgang in die finansiële sektor.

Hierdie geoktrooieerde rekenmeester (SA) werk tans as ’n assosiaatdirekteur by PricewaterhouseCoopers (PwC).

Haar werk behels hoofsaaklik dat sy die vennote by verskillende aanstellings ondersteun. “Ons tree as ’n betroubare besigheidsadviseur vir ons kliënte op en fokus hoofsaaklik daarop om sake- en finansiële beheermaatreëls wat ’n invloed op hulle finansiële state het, te evalueer, en verskaf tegniese leiding oor talle sake.  Ek werk saam met verskeie ouditspanne en tegniese spesialiste met die uitvoer van die jaarlikse oudits van finansiële state vir ons kliënte,” sê Farzeen. 

Sy voeg by dat sy ook deel is van die leer- en ontwikkelingspan, wat haar toelaat om opleiding vir verskillende posgraderings binne die organisasie te verskaf.

Farzeen sê dat die NWU vir haar die grondslag van haar loopbaan gelê het. Sy het haar BCom Geoktrooieerde Rekenmeesterskap sowel as BCom Honneurs in Geoktrooieerde Rekenmeesterskap aan die universiteit verwerf.

“Hierdie twee kwalifikasies het my in staat gestel om die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters se raadseksamen te skryf om as geoktrooieerde rekenmeester te kwalifiseer,” sê Farzeen. Sy sluit af dat sy wonderlike herinneringe het van hoe sy haar BCom-graad met lof geslaag het en die visekanseliers- asook ’n Golden Key-toekenning in haar tyd aan die NWU ontvang het.

 

Yvonne Kgwarae: NWU-alumna erken vir uitstekende bydrae tot MIV-voorkoming

Die organisasie Young 1ove het onlangs erkenning gegee aan Yvonne Kgwarae, ’n alumna van die Noordwes-Universiteit (NWU), vir haar uitmuntende bydrae tot MIV-voorkoming in Botswana.

Yvonne is vereer vir haar pogings om ’n verskil te maak in die Republiek van Botswana deur haar betrokkenheid via die Kula BW Stigting by nasionale programme vir die voorkoming en behandeling van MIV.

Sy werk deur hierdie stigting met verskeie regeringsdepartemente, plaaslike organisasies en NRO’s om die inwoners van Botswana bewus te maak van die gevare van MIV/Vigs.

Sy help ook om internasionale MIV/Vigs-prioriteite plaaslik toe te pas sodat gemeenskappe dwarsoor Botswana, en in besonder die minderbevoorregtes, daarby baat kan vind.

Yvonne sê sy geniet hierdie werk.

“Ek hou daarvan omdat dit betekenisvol is en daagliks ’n verskil in die lewens van mense maak. Aangesien Botswana hard getref is deur die MIV-epidemie, het ek besluit om my vaardighede en kennis te gebruik om te help,” sê sy.

“Die idee is om daartoe te streef om teen 2030 geen nuwe infeksies meer te hê nie en om te verseker dat ons mense nie sterf aan ’n siekte wat maklik bestuur kan word nie,” sê sy.

Meer oor Yvonne Kgwarae

Yvonne het ’n BA-graad in sosiale wetenskappe aan die NWU behaal. Sy is tans besig met ’n meestersgraad in navorsing en openbare beleid aan die Universiteit van Botswana.

Sy het onder meer by die John Hopkins Universiteit se Sentrum vir Kommunikasieprogramme gewerk, asook vir die Botswana Network of Aids Service Organisation, die Botswana Family Welfare Association, en die Human Resources Development Council.

Sy is tans die voorsitter van die NWU se Botswana-alumni-afdeling.

 

Chanell Meijer: Teen alle verwagtings in: sy oorleef nie net nie, maar floreer

Ses jaar het reeds verloop sedert Chanell Meijer lewensveranderende beserings in ‘n ernstige fietsongeluk opgedoen het. In dié tyd het sy egter alle verwagtings oortref en sal sy gedurende die 2020 akademiese jaar van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark haar beywer vir ‘n meestersgraad in opvoedkunde.

Chanell – ‘n trotse alumna van die NWU – het in 2015 vir nasionale opskrifte gesorg toe sy, in daardie stadium na haar ongeluk en steeds in ‘n rolstoel gekluister, haar honneursgraad in opvoedkunde behaal het.

‘n Lewensveranderende ongeluk

Chanell was in 2014 op die kruin van haar loopbaan as mededingende atleet en het lof ingeoes as ’n bekwame driekampatleet, langafstandhardloper, hokkiespeler, professionele tennisspeler en ervare sportafrigter. As onderwyser by die Hoërskool Sasolburg het sy nie net gehelp om jongmense akademies te slyp nie, maar het sy ook as praktiese afrigter haar passie vir sport gedeel.

Dit het egter alles op 19 Desember 2014 verander.

Op haar pad terug vanaf ’n 100 km-oefenrit, is Chanell in Vanderbijlpark van haar fiets afgery deur ’n motoris wat nie by ’n stopstraat stilgehou het nie. Sy is per helikopter na ’n hospitaal in Alberton vervoer, op ’n lewensondersteuningstelsel geplaas, en was vir amper 90 dae lank in ’n koma. Neuroloë het vasgestel dat sy as gevolg van die ongeluk erge breinskade opgedoen het.

’n Veggees soos min

Chanell gee egter nie sommer moed op nie. Hoewel sy toe nog in ’n koma was, het sy net 26 dae ná die ongeluk op haar eie begin asemhaal. Haar ouers, Pieter en Yvonne Meijer, glo dat hulle dogter se veggees haar in staat gestel het om nie net te oorleef nie, maar om ná die grootste uitdaging in haar fisieke lewe te floreer.

“Reeds op die dag van haar ongeluk het gebedsgroepe regoor die wêreld gevorm, en ons as gesin is omring deur die ondersteuning van die gemeenskap en die Suid-Afrikaanse sportgemeenskap,” sê Yvonne. Hoewel die dokters nie optimisties was oor haar kanse op herstel nie, het Chanell teen alle verwagtings een dag haar oë oopgemaak en probeer praat.

Haar nuwe normaal

“Die ongeluk het my ’n nuwe mens gemaak,” sê Chanell, en verduidelik dat sy op die ouderdom van 32 soos ’n baba was wat van voor af weer moes leer eet, stap en praat.

Sy erken dat hoewel haar pad na herstel moeilik was, sy krag ontvang het by haar gesin en die talle wonderlike mense wat haar ondersteun het. Die besef dat sy ’n tweede kans op die lewe gegun is, en dat daar geen terugkeer na die “ou Chanell” was nie, het haar gemotiveer om geduldig te wees.

En wat hou die toekoms vir haar in?

Sy antwoord opgewonde dat sy uitsien daarna om weer te studeer, langafstandhardloop gaan aanpak, en uiteindelik – eendag – vir die Comrades-marathon gaan inskryf. Van een ding is ek seker: Chanell se drome is binne haar bereik!

Nog ’n oorwinning vir NWU se Penelope Motshwene

Penelope Motshwene, wat aan die hoof staan van die Eenheid vir Regte van Studente met Gestremdhede by die Noordwes-Universiteit (NWU), het keer op keer bewys dat drome wel waar word. Sy is onlangs as een van die Playtex-ambassadeurs vir 2020 aangewys.

Sy was vroeër vanjaar as een van Playrex se ambassadeurs vir 2020 aangewys.

Hierdie vroue-onderklerehandelsmerk was op soek na vreeslose vroue wat hulle produk op ’n daaglikse basis dra – vroue wat kan wys hoe veelsydig die handelsmerk is en vol vertroue is oor hoe hulle onderklere pas. “Ek het grootgeword met ’n borsmaat wat groter is as dié van die meeste van die vroue van my ouderdom en liggaamsgrootte, en dit was moeilik om ’n handelsmerk te kry wat my borsmaat pas – behalwe by hulle. Ek voel dat die veldtog net so veel tot my hart spreek as wat dit blykbaar die stryd aanpak wat die meeste vroue ervaar,” sê Penelope.

Sy het vir die kompetisie ingeskryf en saam met duisende ander Suid-Afrikaanse vroue haar storie vertel. Ná ’n streng keuringsproses het sy haar in die top 12 bevind en toe in die top 5 – en daarna die veldtog gewen.

“Dit was so ’n ongelooflike ervaring. Dit bewys net dat niks onmoontlik is nie. Ek is so opgewonde dat ’n gewone vrou soos ek die kans gekry het om as model vir so ’n groot handelsmerk op te tree,” sê Penny.

Drome wat uitgestel word, is nie noodwendig verby n

Penelope kom van KwaNdebele, ’n klein dorpie in Mpumalanga, en sy het aan die Universiteit van Pretoria studeer, waar sy haar graad in Maatskaplike Werk behaal het. Sy sê dat sy nog altyd ’n model wou wees, maar dat sy aanvanklik nie die selfvertroue gehad het om hierdie droom na te jaag nie. Namate sy egter ouer geword het, het sy begin om die selfvertroue te kry om te doen wat sy graag wou doen.

Sy voeg by dat die heelal vir jou gee wat jy wil hê as jy net die moed het om te vra. Sy is in 2016 as die Gesig van Avroy Shlain se velsorgreeks aangewys, en in 2017 as die Gesig van Clicks.

Sy voeg by dat jong vroue wat na haar opsien moet najaag waarvoor hulle lief is en waaroor hulle passievol is.  “Die drome wat ons in ons harte koester, is nie net sommer daar nie. Dit is daar geplant omdat God ons die vermoë gegee het om dit deur te voer totdat dit gerealiseer word,” sluit sy af.

Prof Susan: ’n ervare akademikus

Met ’n loopbaan wat amper 30 jaar omspan, is prof Susan Coetzee-van Rooy se resep vir sukses toewyding en vasberadenheid.

Prof Susan, wat vir die grootste deel van haar lewe in hoër onderwys gewerk het, het as akademiese bestuurder en navorser uitgeblink. Sy werk tans as navorsingsprofessor in die navorsingsentiteit Verstaan en Verwerking van Taal in Komplekse Omgewings (UPSET) aan die Noordwes-Universiteit (NWU) en fokus daarop om die meertalige repertoires van Suid-Afrikaanse studente te verstaan. Sy het in 2003 as die direkteur van Akademiese Steundienste by die NWU aangesluit en het deur die jare verskeie posisies aan die universiteit beklee.

Prof Susan het ’n lang lys prestasies, maar een van haar beste herinneringe is dat sy een van die eerste vakkundiges in die geesteswetenskappe was om in 2003 ’n Nasionale Navorsingstigting-gradering te ontvang.

Sy was van 1987 tot 1993 ’n student aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, tans die NWU. Sy het haar BA-graad in tale, ’n Hoëronderwysdiploma, ’n BA Honneurs-graad in Engels, en haar MA in Engels verwerf – alles aan die NWU.

Sy raai vroue aan wat na haar opsien om nie te veel te beplan nie, onbevooroordeeld te wees, en hulleself aan verskillende ervarings bloot te stel. Sy beklemtoon ook dat ’n ondersteunende lewensmaat ’n groot verskil maak wanneer jy probeer om jou loopbaan te bou.

Prof Susan sê dat sy vanaf 2019 tot 2034 op haar navorsing gaan fokus. Sy hoop dat haar NWU-kollegas wat ook haar nagraadse studente is in die volgende vyf jaar hulle PhD’s gaan voltooi sodat hulle studieleiers vir die volgende groep studente kan wees. Sy hoop ook om die medeskrywer van ’n boek te wees wat al die data gebruik wat sy oor meertalige studente in Suid-Afrika ingesamel het.