Printer-friendly version
Druk
Share this
 

Karre uit die jaar toet pronk langs die Vaal

Dis 'n uitstalling van ou voertuie, implemente en enjins. Dit is ook ‘n kermis en ‘n makietie ineengevleg soos ‘n koeksister. Maar bowenal is die Wiele by die Vaal ‘n dag van ‘onthou-jy-nog’. Hoewel die Vaal Ou Wiele-klub reeds sedert 2001 jaarliks ‘n uitstalling het, het hulle dit in September 2005 vir die eerste keer op die NWU se Vaaldriehoekkampus gehou.

Sedertdien trek besoekers en uitstallers jaarliks van so ver as Worcester, Clanwilliam, Vryheid en Polokwane saam op die oewer van die Vaalrivier om met hul pronkstukke te spog. “Ons kan met trots sê dis die tweede grootste voertuig-uitstalling in die land. Om die waarheid te sê, dit het van ’n motorskou gegroei tot die grootste lewende kultuuruitstalling in Suid-Afrika,” sê mnr Mauritz Meyer van die Bemarking en Kommunikasie Departement op die Vaaldriehoekkampus.

Wheels@Vaal


Vir vanjaar se geleentheid op 4 September en 5 September val die klem op voertuie met kopligte. “Nie net motors nie, maar alles wat wiele het, word verwelkom,” nooi Mauritz. Daar gaan ook vanjaar ’n plaaswerf wees waar besoekers sal kan sien hoe ’n mens room afskei, koffiebone brand, velle brei, rieme sny, swepe vleg, donsvere pluk, brood in ’n buite oond bak, skape skeer, en kerse en wynvaatjies maak. Daar gaan ook ’n landbou- en buitelewe-uitstalling wees, asook ’n uitstalling van statiese enjins.

Wheels@Vaal_enginesDié uitstalling is so besonders dat dit in 2007 gekwalifiseer het om in die Guinness Book of Records opgeneem te word vir die meeste statiese enjins wat gelyktydig vir ‘n vasgestelde tyd geloop het. Die Suid-Afrikaners het sommer lag-lag aan die reëls – dat die enjins in werkende toestand moes wees en vir vyf minute aanmekaar moes loop – voldoen. Trouens: ‘n totaal van 205 enjins het vir dié tydperk ononderbroke geloop.

Statiese enjins dateer terug na die vroeë 1900’s en is aanvanklik deur boere gebruik om onder meer water te pomp en krag op te wek, asook later in fabrieke as deel van die vervaardigingsproses. Een van die meer bekende handelsname vir statiese enjins, Lister, het aan die begin van die vorige eeu in Vereeniging enjins gebou.

Vir meer inligting oor die Wiele by die Vaal-geleentheid, skakel gerus vir mnr Meyer by (016) 910 3251 of 083 513 6632. 

 

 Gepubliseer deur Sipho Msolo op 10 Augustus 2010.