
TREES: Tourism Research in Economic Environs and Society
AGTERGROND EN GESKIEDENIS
Met meer as 300 groot navorsingsprojekte vir privaatsektor- en regeringskliënte wat die afgelope 27 jaar uitgevoer is, is die navorsingsprestasierekord van die Instituut vir Toerisme en Vryetydstudies sonder weerga in Suid-Afrika. Die instituut se toerismenavorsingsprogram was die eerste nisprogram in Suid-Afrika wat deur die Nasionale Navorsingstigting geakkrediteer is, en is steeds die land se enigste NNS-gefundeerde toerismeprogram. In 2008 was die instituut gereed om die volgende fase van sy ontwikkeling te betree deur nisentiteitstatus in die NWU se nuwe navorsingsbestuursmodel te ontvang. Kort na die aankondiging dat die Universiteit ’n nuwe bestuursmodel vir navorsing sou instel, het die instituut aansoek gedoen om as ’n nisnavorsingsentiteit erken te word. Die aansoek het geslaag, en teen Julie 2008 het die instituut saaibefondsing vir die daarstelling van die nisarea Sosio-ekonomiese Impak van Toerisme (SEIT) ontvang. Hierdie verwikkeling het die weg gebaan vir groter samewerking tussen navorsers in die veld, asook vir ’n toename in nasionale en internasionale navorsingsuitsette.


