Sunette Viljoen | Alumni

Sunette Viljoen – die heel beste

 

Die name van Sunette Viljoen en die NWU het sinoniem geraak met uitnemendheid en buitengewone prestasies op die atletiekbaan.

Sy is die beste vrouespiesgooier wat Suid-Afrika, Afrika en die Statebond nog opgelewer het. Slegs ’n paar uitgesoekte atlete uit Suid-Afrika het hierdie vlak van sukses en erkenning behaal en in hierdie eksklusiewe groep is sy die trotse vaandeldraer vir Suid-Afrika en die NWU.

Sunette het ’n BCom-graad in Sport en Ontspanningsbestuur van die NWU en deur haar buitengewone prestasie op atletiekvelde regoor die wêreld was sy ’n fenomenale handelsmerk-ambassadeur vir die NWU. As atleet het Sunette haarself as leier en afrigter van jong atlete onderskei. Sy is koersvas in haar pogings om atlete te help om hulle volle potensiaal te bereik.

Sunette is ’n tienmalige Suid-Afrikaanse kampioen, ’n agtmalige SA Studentekampioen en viermalige Afrika-kampioen. Sy het in 2009 en 2011 die studente-wêreldtitel verower en was die Statebond-kampioen in 2006 en 2010.  In 2014 het sy ’n silwermedalje verower. Sy het twee keer die IAAF se kontinentale beker gewen, is die houer van vier junior SA rekords en sewe Suid-Afrikaanse rekords. Sy het in 2011 die bronsmedalje by die IAAF se wêreldkampioenskap gewen en het die vierde plek by die 2012 Olimpiese Spele behaal. Dit was die derde keer dat sy Suid-Afrika by die Olimpiese Spele verteenwoordig het.

Sunette is die personifikasie van wat dit beteken om ’n NWU alumnus te wees. Tydens haar loopbaan moes sy baie persoonlike terugslae verduur en sy het altyd deur harde werk en toewyding geseëvier.