Prof Alta Schutte

Prof Alta Schutte

Neem die stryd teen hipertensie ter harte

Prof Alta Schutte, ’n biomediese wetenskaplike en navorsingsprofessor in die Noordwes-Universiteit (NWU) se Hipertensie in Afrika-navorsingspan (HART), is ’n bekende naam in die internasionale sfeer van biomediese navorsing oor hoë bloeddruk, of hipertensie.

Sy was in 2008 die HART-navorsingsentiteit se stigtingsdirekteur. Haar kundigheid het daartoe gelei dat sy in 2013 in die SARChI-leerstoel in die vroeë opsporing en voorkoming van kardiovaskulêre siekte in Suid-Afrika aangestel is.

Prof Alta, wat ’n B2-gradering van die Nasionale Navorsingstigting het, is ’n produktiewe en internasionaal-erkende navorser.

Sy is sedert 2018 die voorsitter van die Internasionale Hipertensievereniging en het van 2016 tot 2018 as visevoorsitter van die vereniging gedien. Sy was ook van 2014 tot 2016 die voorsitter van die Suider- Afrikaanse Hipertensievereniging.

Prof Alta het verskeie grade aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys behaal. Sy het ’n PhD in Fisiologie (2002), ’n MSc in Fisiologie (2001) cum laude, ’n BScHons in Fisiologie (2000) cum laude, en ’n BSc in Fisiologie en Menslike Bewegingskunde (1999), ook cum laude.

Sy is geen vreemdeling as dit by toekennings kom nie, en het reeds 17 hoëprofieltoekennings plaaslik en internasionaal ontvang.

Sy het ook onder andere NSTF-South 32-toekennings —bekend as die “Wetenskap Oscars” — ontvang, die Vroue in Wetenskap-toekenning as Uitmuntende Jong Vrou in Wetenskap, en ’n uitnemendheidstoekenning van die Fisiologievereniging van Suider-Afrika in 2017.