Die Noordwes-Universiteit (NWU) beloon uitnemende navorsers
Institusionele Kantoor – Toewyding word beloon – dit was duidelik toe meer as vyftig NWU-personeellede erkenning ontvang het vir uitnemendheid in navorsing, innovasie, gemeenskapsbetrokkenheid en kreatiwiteit tydens ’n gala-geleentheid in Potchefstroom op Vrydag, 26 Oktober 2012.
Die gasspreker tydens die geleentheid, minister Derek Hanekom, die minister van Wetenskap en Tegnologie, het die NWU geluk gewens met die groot vordering wat die instelling die afgelope drie jaar gemaak het met die verhoging van sy navorsingsuitsette.
Die minister het ook sy tevredenheid te kenne gegee met die universiteit se getal navorsers wat deur die Nasionale Navorsingstigting gegradeer is en het beklemtoon dat die universiteit daarna moet streef om die poel van gegradeerde navorsers oor al die dissiplines uit te brei.