
FAKULTEIT LETTERE EN WYSBEGEERTE
Skool vir Tale
Die Skool vir Tale, wat gehuisves word in die Frans du Toitgebou (E9), bied primêr opleiding in taal- en letterkunde aan, veral die taal- en letterkundes van die volgende tale: Afrikaans en Nederlands, Duits, Engels, Frans en Setswana (as moedertaal en as vreemde taal). Afgesien hiervan word daar ook kursusse aangebied in Skryfkuns (die eerste universiteit wat dit op voorgraadse vlak in SA aangebied het), Taaltegnologie (die enigste universiteit in die land wat omvattende opleiding en kwalifikasies in taaltegnologie op voor- en nagraadse vlak aanbied) asook Vertaal- en Tolkstudie (waarby ook tolking en teksredigering betrek word). Die aanbod is dus veelsydig en uitgebreid: Veeltaligheid is ‘n belangrike fokuspunt – die Skool se leuse is nie verniet” ‘My taal, jou taal, ons tale’ nie! Afgesien hiervan is die Skool ook die tuiste vir die aanbied van modules in Akademiese Geletterdheid (AGLA/AGLE) – hierdie modules het naamlik ten doel om studente voor te berei om op akademiese vlak by die universiteit in te skakel. Groot sukses word hiermee behaal.
Die personeelkorps is goed opgelei (‘n groot aantal het reeds gedoktoreer) en hulle neem nasionaal en internasionaal deel aan die vakgesprekke; die dosente is aktief betrokke by goeie onderrig (talle het al onderrigtoekennings verwerf) en gee om vir hulle studente. Opleiding en navorsing is derhalwe ons passie en ons nooi studente uit om onder ons hand te kom studeer. Saam kan ons hoogtes bereik!
Volg gerus die Skool vir Tale se Facebook-groep.
Die Skool vir Tale funksioneer ook saam met die Sentrum vir Akademiese en Professionele Taalpraktyk en die Navorsingseenheid: Tale & Literatuur in die Suid-Afrikaanse konteks.
DBAT
Die NWU huisves ook die Digitale Bibliografie van die Afrikaanse Taalkunde (DBAT). Die DBAT bevat voorlopig slegs rekords oor die Afrikaanse taalkunde en word saamgestel deur personeel van die Vakgroep Afrikaans en Nederlands in die Skool vir Tale, met prof WAM Carstens as die huidige projekleier en eindredakeur van die databasis.
Volg hierdie skakel na die DBAT.


