
Puk-prof op minister se adviespaneel
Professor Heilna du Plooy van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus se Skool vir Tale, is pas deur die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, as deel van ‘n paneel benoem om hom te adviseer oor 'n toekomstige beleid vir die geesteswetenskappe in hoër onderwys.
|
|
|
Prof. Heilna du Plooy. |
Volgens Du Plooy bestaan die adviespaneel uit vyftien kundiges uit verskillende dissiplines en instansies in die geesteswetenskappe, vanuit sowel die sosiale wetenskappe as die tale en filosofie. Kundiges van onder meer universiteite, raadgewende instansies, institute en navorsingsliggame is hierby betrokke.
“Daar is 'n sterk bewustheid van die probleme waarmee die geesteswetenskappe gekonfronteer staan en dit is verblydend dat die minister en al die betrokkenes die situasie wil verbeter,” sê Du Plooy. Nzimande poog hierdeur om onder meer die belangrikheid van beurse en navorsingsbefondsing te beklemtoon omdat daar die afgelope paar jaar ‘n merkbare gebrek in belangstelling is in die geesteswetenskappe wat belangrike dissiplines soos die tale, regte en ekonomiese wetenskappe insluit. “Dit is die regering se verantwoordelikheid om op skaars en krities belangrike vaardighede te fokus, en ek is bekommerd oor die verwaarlosing hiervan by veral universiteite en ander tersiêre instansies,” het Nzimande gesê.
Die taakspan sal verantwoordelik wees om bestaande inisiatiewe te bestudeer, sowel as om inligting te verskaf en advies te gee oor die ontwikkeling van nuwe innoverende programme. Afgesien van die insette van die paneel self, sal daar twee byeenkomste plaasvind waar alle ander betrokkenes die geleentheid sal kry om ingelig te word en self insette te lewer. Dekane, vise-kanseliers en navorsingsdirekteure van universiteite se kundigheid sal ingeroep word om seker te maak dat die finale beleid aanvaarbaar, nuttig en opwindend sal wees en ook aan die hoogste vereistes sal voldoen. Die paneel moet hul verslag gereed hê teen Mei 2011.
Gepubliseer deur Kiewiet Scheppel op 14 Oktober 2010.



