
Navorsing oor biobrandstof word internasionaal erken
‘n Dosent van die Skool vir chemiese en mineraalingenieurswese op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit was die enigste Suid-Afrikaner en ook in Afrika wat genooi is om as konsultant by die Voedsel en Landbou-organisasie (Food and Agriculture Organisation – FAO) in Rome op te tree.
Prof. Sanette Marx het as kenner van biobrandstowwe die organisasie toegespreek oor ’n gemeenskapsprojek wat hulle by Thusanang beplan wat ‘n goeie voorbeeld van ‘n geïntegreerde voedsel- en energiesisteem is. Die FAO is ‘n organisasie wat as ‘n subafdeling van die Verenigde Nasies gestig is om die voedselvoorsiening van mense landwyd te monitor.
Sekere afdelings binne die FAO is besig om dié geïntegreerde sisteme te ondersoek en formuleer tans ‘n raamwerk oor hoe boere en/of gemeenskappe energie kan opwek uit biomassa sonder dat voedselvoorsiening benadeel word. Deur dié sisteme wil hulle verseker dat die beskikbare grond optimaal vir voedsel- en energieproduksie benut word.
Marx sê ‘n tipiese geïntegreerde voedsel-energiesisteem is waar ‘n boer byvoorbeeld beeste, varke of hoenders aanhou om die mis te gebruik vir biogas-produksie wat hy as energiebron kan gebruik om te kan kosmaak of sy huis te verwarm.
“Die blootstelling en verbinding met so ‘n groot internasionale instansie is uitstekend vir die fakulteit en die NWU se beeld. Dit wys dat die navorsing wat ons doen van waarde is vir die wêreld en verbeter ons beeld na die buiteland,” sê Marx.
Die nuwe toepassings van biomassa in die energieveld wat deur die FAO gedoen word, is van uiters belangrik omdat voedselproduksie volgens statistiek van die FAO met 70% moet toeneem om die wêreld teen 2050 van kos te kan voorsien.
Marx sê dat dit ‘n geweldige voorreg om die land en Afrika te verteenwoordig, maar was ook ‘n groot verantwoordelikheid omdat haar opinie as Afrika se opinie gesien is.
Prof. Sanette Marx tydens haar besoek aan Rome.
Gepubliseer deur Nikki Nel op 18 Augustus 2010.


