Printer-friendly version
Druk
Share this
 

Rektor onthaal NWU-Puk-atlete

Die rektor van die Pukkampus het atlete van die NWU-Puk onthaal ná hulle welslae in die afgelope USSA (Universiteitsport Suid-Afrika) toernooi en die insluiting van verskeie atlete in SA-spanne.

 

 2010 USSA atlete onthaal 380
Agter is prof. Hendré Reyneke (studentedekaan), Justine Robbeson (atletiekkaptein), James Stoffberg (direkteur van Puk Sport), prof. Herman van Schalkwyk (kampusrektor), Terseus Liebenberg (bestuurder van atletiek), Gert Swanepoel, Gérard Moerdyk (klubvoorsitter) en Hennie Botha (klubvoorsitter). Voor is Corli Swart, Elroy Gelant en Tumelo Thagane.

 

Die rektor van die Pukkampus het atlete van die NWU-Puk onthaal ná hulle welslae in die afgelope USSA (Universiteitsport Suid-Afrika) toernooi en die insluiting van verskeie atlete in SA-spanne.
  Prof. Herman van Schalkwyk het gesê die span atlete het bewys dat die Puk die beste atletiekspan in die land het en dat hulle besig is om ’n regmerkie vir die hele universiteit te maak.
  Hy het gesê ’n universiteit wat goed in sport vaar lok ook baie goeie studente. “Sport sal altyd een van die belangrikste faktore van ’n universiteit bly wat in sy bemarkingsveldtogte gebruik kan word.
  “Ek is trots om met julle geassosieer te wees. Baie dankie vir wat julle vir die Puk beteken.”
  Die span van die Puk wat aan die USSA-toernooi deelgeneem het is een van die jongste spanne wat so goed gevaar het.
  Terseus Liebenberg, wêreldbekende atletiekafrigter, het gesê atlete het vanjaar uitstekend gevaar.
• Drie van die NWU-Puk-atlete spog tans onder die tien bestes in die wêreld. Hulle is die spiesgooiers, Sunette Viljoen (vyfde met 63.45m) en Justine Robbeson (tiende met 61.23m) en Tumelo Thagane (driesprong met 17.05m).
• Twaalf atlete is tot dusver in die SA-span ingesluit wat in Julie aan die Afrika Kampioenskap in Kenia gaan deelneem. Hulle is Tumelo Thagane en Patience Ntshingila (driesprong), Simon Magakwe (100m en 200m), Elroy Gelant (5000m), Edwin Molepo (3000m hindernis), André Storm (110m hekkies), Marcoleen Pretorius (hoogspring) en vyf spiesgooiers, Ulrich Damon, Tobie Holtzhauzen, Sunette Viljoen, Justine Robbeson en Tazmin Brits.
• Brits is ook in die voorlopige SA-span ingesluit wat aan die IAAF Junior Wêreldkampioenskap in Kanada gaan deelneem.
• Corli Swart het onlangs ’n twintigste plek behaal in die IAAF Stap Wêreldbeker. Sy het aan die o.20-afdeling se 10km stap deelgeneem.
• Gert Swanepoel het weer ’n nuwe o.20 SA rekord opgestel in die tienkamp waarmee hy 6 755 punte verdien het.
• Vyf NWU-Puk-atlete het reeds gekwalifiseer vir die Statebond Spele in Oktober in Delhi, Indië. Hulle is Sunette Viljoen, Justine Robbeson, Elroy Gelant, Tumelo Thagane en Simon Magakwe.
 

 Gepubliseer deur Nikki Nel op 2 Junie 2010.