Printer-friendly version
Druk
Share this
 

Schutte se intreerede spreek hoë bloeddruk aan

Prof. Alta Schutte, leier van die nisarea van hipertensie in Afrika Navorsingspan (HART) het onlangs haar intreerede op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit gelewer.

 

 Alta Schutte se intreerede
Van links is proff. Frikkie van Niekerk (uitvoerende direkteur: navorsing en innovasie van die NWU), Amanda Lourens (viserektor navorsing en beplanning), Mariëtte Lowes (viserektor onderrigleer), Alta Schutte, Marlene Viljoen (dekaan van gesondheidswetenskappe) en Nico Malan (direkteur van die Skool vir fisiologie, voeding en verbruikerswetenskappe).

 

  Schutte het sedert haar aanstelling in 2001 in die fakulteit gesondheidswetenskappe haar aandag op navorsing rakende bloeddruk gevestig.
  Tydens haar intreerede het sy die metafoor van ‘n trapsuutjies gebruik om te verduidelik hoe hoë bloeddruk mense se gesondheid op ‘n onopsigtelike wyse bekruip en dan skielik tot ernstige gevolge soos beroertes of hartaanvalle kan lei. Sy het die hoë voorkoms van hipertensie onder die swart Suid-Afrikaanse bevolking as een van die grootste oorsake vir die stygende getal beroertes onder dié mense uitgelig.
  Sy het ook gefokus op ander risikofaktore vir hoë bloeddruk soos vetsug en veroudering. Sy het gesê met die interessante ontdekking in die negentigerjare dat vetweefsel ‘n belangrike orgaan is wat hormone afskei, is nuwe deure vir navorsing geopen. Schutte en die res van die HART-span het ‘n groot volume werk oor die onderwerp van dié hormone gedoen en getoon dat dit belangrike funksies het met betrekking tot die ontwikkeling van diabetes en hoë bloeddruk.
  Schutte se huidige navorsing fokus ook op ‘n groep hormone (insulien-agtige groeifaktor) wat veroudering teenwerk en ‘n mens teen hoë bloeddruk geskerm. In die navorsing is bevind dat swart mense in die Potchefstroom-area op ‘n vroeë ouderdom reeds lae vlakke van hierdie hormone het wat hulle kwesbaar maak vir die ontwikkeling van hoë bloeddruk. Die span delf nou saam met navorsers van Italië, dieper in hierdie onderwerp.
  Sy het die hoop uitgespreek dat die navorsing in die toekoms sal lei tot effektiewe voorkomingsstrategieë vir die ontwikkeling van hoë bloeddruk, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in oorsese lande.
  Schutte, ‘n boorling van die Klerksdorp-omgewing, het haar BSc-kwalifikasie, asook haar honneursgraad en meestersgraad in fisiologie met lof geslaag. Sy het haar doktorsgraad in kardiovaskulêre fisiologie in 2002 geslaag. Sy is in 2001 as vakkundige by fisiologie aangestel.
  Sy is in 2003 en weer in 2009 as een van honderd jong wetenskaplikes in die wêreld gekies om die internasionale BioVision.Nxt-byeenkoms in Frankryk by te woon waar sy met vooraanstaande wetenskaplikes en Nobelpryswenners kontak gemaak het. Sy het in 2004 haar nadoktorale werk by die Menzies School of Health Research in Darwin, Australië onder leiding van pro. Kerin O’Dea voltooi.
  Schutte is sedert 2008 die nisarealeier van HART en het in 2005 ‘n Y1-gradering van die Nasionale Navorsingstigting ontvang. Sy wag tans op die uitslag van haar nuwe aansoek.
  Schutte was sedert 2001 outeur of mede-outeur van 58 artikels in geëvalueerde tydskrifte en het ook in verskeie populêre publikasies gepubliseer. Sy het verskeie genooide voordragte en voorleggings by internasionale en nasionale kongresse gelewer en het as evalueerder vir veertien verskillende vooraanstaande internasionale joernale van navorsingsartikels opgetree.
  Schutte dien op die Internasionale vereniging vir hipertensie, asook op die Hoë bloeddruk navorsingsraad van Australië. Sy is verkies tot bestuurslid van die fisiologievereniging van Suidelike Afrika, dien op die adviserende raad van die Hipertensievereniging van Suidelike Afrika en is aangestel op die SA nasionale komitee van die internasionale vereniging van fisiologiese wetenskappe.
  Sy het reeds vyftien magister en doktorale studente in hulle studies gelei. Schutte is ‘n geregistreerde mediese biologiese wetenskaplike by die raad vir gesondheidsberoepe van Suid-Afrika.
  Sy is getroud met Paul-Jaco en die egpaar het twee kinders.
 

 Gepubliseer deur Nikki Nel op 2 Junie 2010.