Printer-friendly version
Druk
Share this
 

NWU open laboratorium vir produkontwikkeling- en vervaardiging

’n Laboratorium wat vervaardigers kan ondersteun om hulle mededingendheid plaaslike en internasionaal te verbeter is onlangs op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit geopen. 

 DTI_NWU_open_laboratorium_vir_produkontwikkeling-_en_vervaardiging_360
Agter is mnr. Tswaledi Mashiane, adjunkdirekteur van die departement handel en nywerheid, prof. Johan Fick, dekaan van die fakulteit ingenieurswese, mnr. Amos Mbele, adjunkdirekteur, dr. Julius Nyalunga, direkteur van die departement handel en nywerheid, en dr. Ntokozo Mthembu, programbestuurder by die IDC. Voor is prof. Amanda Lourens, viserektor: navorsing en beplanning, prof. LJ Grobler, uitvoerende direkteur van die Sentrum vir uitnemendheid in gevorderde vervaardiging en me. Nomfuneko Majaja, hoofdirekteur van die departement handel en nywerheid.

 

Die dti Sentrum vir uitnemendheid in gevorderde vervaardiging (dti CoE) se laboratorium spesialiseer in ekstrusie, ’n prosesseringsproses wat in die voedsel-, voere-, plastiek- en spuitverfnywerhede gebruik kan word. Dit is deel van die uitgebreide fasiliteite wat beskikbaar is by die NWU-Puk om rolspelers in die vervaardigingsbedryf toegang tot die jongste tegnologie en navorsing in gevorderde vervaardiging te gee.
  Die uitvoerende direkteur van die dti CoE, prof. LJ Grobler, sê die doel van die ekstrusie-laboratorium is om Suid-Afrika se vervaardigingskapasiteit te ontwikkel tot ’n volhoubare industrie. Dit is in samewerking en met die finansiële steun van die nasionale departement van handel en nywerheid (dti) en Sasol ChemCity op die been gebring.
  Hy sê hulle fokus is om ’n bekostigbare,wêreldklas vervaardigings- en kapasiteitsuitbreidingsdiens daar te stel wat waarde tot veral klein- en
mediumgrootte besighede se produkte kan voeg. “Sodoende kan dié besighede in bestaande markte meeding en selfs nuwe markte skep.”

DTI_NWU_open_laboratorium_vir_produkontwikkeling-_en_vervaardiging_180
Dr. Julius Nyalunga, direkteur van die departement handel en
nywerheid onthul die gedenkplaat van die nuwe sentrum.

  Hy sê ’n mini-voedselprosesseringsaanleg wat deur die NWU ontwikkel is, word in dié sentrum gehuisves. Hierdie aanlegte, wat dwarsdeur Suid-Afrika opgestel kan word, kan entrepreneurs in staat stel om voedselprodukte te vervaardig.
  “Die vraag na hierdie aanlegte is groot omdat veral afgeleë gemeenskappe voedsame kosprodukte deur middel van ’n energie- en koste-effektiewe proses kan produseer. Hierdeur kan bemarkbare produkte vervaardig word naby die plek waar die rou produkte verbou word.”
  Voorbeelde van produkte sluit in mielies, graan en soja wat verwerk word in graankosse, hoë-energie pap en sojaboon-vleisalternatiewe.
  ’n Vesel-polimeerkomposiet-laboratorium (fibre polymer composite extrusion laboratory) vorm deel van die fasiliteite en is in samewerking met ChemCity,  ’n groepmaatskappy van Sasol, tot stand gebring.  Mnr. Hennie Roets, besigheidsondersteuningspanbestuurder vir ChemCity sê hulle is verbind om in vennootskap met die regering en vennote in alle terreine te werk om ontwikkeling te bevorder. Die doel van die samewerking tussen ChemCity en sy vennote is om ondernemingsontwikkeling en die geassosieerde werkskepping binne die chemiese en verwante industrieë, te help fasiliteer. Hy sê die Sentrum vir Uitnemendheid is een van die vennootskappe wat ChemCity het met die dti en NWU om ekonomiese ontwikkeling te bevorder.
  Grobler sê navorsing- en ontwikkelingswerk in polimeerverwerking word gedoen om byvoorbeeld prototipe produkte te ontwikkel sodat ’n entrepreneur sy mark kan toets. Die vestiging van ’n sentrum vir hout-polimeer-mengsel-ekstrusie en gevulde-polimeer-ekstrusie is ook in proses.
  Hy sê die dti CoE se dienste sluit ook spesialiskundigheid in om tegnologienavorsing en -ontwikkeling te doen wat kommersieel aangewend kan word en om sake-eenhede tot suksesvolle inisiatiewe te help ontwikkel.
  Die sentrum is by die opleiding van vervaardigingspersoneel betrokke, asook om die ontwikkeling van ingenieurs, vakmanne en tegnici in Suid-Afrika te ondersteun.
  Grobler sê die sentrum lei nagraadse studente op, koördineer vaardigheidsontwikkelingsprogramme deur middel van internskappe en ervaringsopleiding en gee beroepsleiding aan skoliere oor vervaardigingsingenieurswese. Die laboratorium poog ook om samewerking tussen die industrie, opleidingsinstellings en die regering te bevorder.
  Benewens die strategiese vennootskappe met die departement van handel en nywerheid en Sasol ChemCity, is daar ooreenkomste gesluit met die Texas A & M Universiteit in die VSA en die Vaal Universiteit van Tegnologie.
  Grobler sê die sentrum ondersteun tans regeringspogings om vervaardigingsaanlegte in onder meer die voedsel-, landbou- en plastieknywerhede op die been te bring.
  “Inisiatiewe om veral kosvervaardigingsaanlegte te vestig saam met rolspelers in plaaslike regerings, gemeenskappe en sakesektore, is reeds aan die gang in die Noord-Kaap, Noordwes, Mpumalanga en Limpopo. Ons help entrepreneurs om plaaslik produkte te produseer deur betrokke te wees vanaf die konseptualiseringstadium, regdeur produktoetsing, sakeontwikkeling tot die oprig van aanlegte en opleiding van personeel.”
  Ander fasiliteite wat ook beskikbaar is, is die sentrum vir gevorderde vervaardiging (CFAM), die Fab Lab (’n laboratorium wat vervaardiging toeganklik maak vir skoliere en studente), ’n rapid of snel- produkontwikkelingsentrum en ’n terugwaartse ingenieursontwerpsentrum (reverse engineering), waar produkte vanaf bestaande voorwerpe ontwerp kan word.
  ’n Fasiliteit wat in die toekoms geopen sal word is ’n sakeontwikkelings- en inkubasiesentrum, waar besigheids- en produkidees gevorm en getoets kan word.
  Grobler sê die dti CoE stel graag sy navorsings- en ontwikkelingsfasiliteite in vervaardiging aan entrepreneurs beskikbaar.
  Belangstellendes kan prof. LJ Grobler kontak by 018 299 1329 of ’n e-pos stuur aan lj.grobler@nwu.ac.za

 Gepubliseer deur Nikki Nel op 26 Maart 2010.