Printer-friendly version
Druk
Share this
 

NWU-Pukke ransel TUT af

Die NWU-Pukke het ’n punt gehad om te bewys met hulle oortuigende wen van 49-17 teen die besoekers van Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) in Maandagaand (8 Maart) se tuiswedstryd.

 nwu-pukke_tut 
Foto:© http://www.varsitycup.co.za

 

’n Driekuns deur die NWU-Puk-slot Francois Robbertse, wat die kaptein Dirco Rautenbach vervang het, het die wind uit die seile van die Pretorianers gehaal. Hy het telkens die bal uit kragtige losskrums ontvang. Die voorspelers het ook vir die drieë van nommer agt, PJ van Zyl, en Robbertse se plaasvervanger, Thabo Molete, gesorg.
  Dit was duidelik ’n nuut geïnspireerde Pukke-span wat hulle intensies vroeg in die wedstryd duidelik gemaak het met die vleuel, Jo Seerane wat deur die middelveld gesny het, maar ’n aangee na Ruan Jacobs verlore laat gaan het.
  Dit was egter nie lank voordat Seerane sy ore teruggetrek en onder die doelpale gaan druk het nie. Worsie Kotzé het egter sy skopskoen tuis vergeet en ’n hele paar skoppe verbrou.
  Die Pukke was teen rustyd slegs sewe punte voor, maar het in die tweede helfte die beste veertig minute se spel die seisoen gelewer en vyf keer gaan druk.
  Hansie Graaff van TUT het sy troos-drie in die tweede helfte gaan druk, maar teen daardie tyd was TUT in drie geelkaarte en ’n rooikaart begrawe.

 

Punte: NWU-Pukke 49 (17)
Drieë: Jo Seerane, Bom Samaai, Francois
Robbertse (3), PJ van Zyl, Thabo Molete, Theuns Kotze.
Doelskoppe: Kotze (3). Skepdoel: Niëll Jacobs. TUT 17 (10)
Drieë: Johan Swartz, Hansie Graaf.
Doelskoppe: Jaco Oosthuizen (2). Strafdoel: Oosthuizen

 

 Gepubliseer deur Nikki Nel op 9 Maart 2010.