NWU-Puk en Universiteit van Gent teken ooreenkoms
|
’n Ooreenkoms van etlike miljoene rand is met die Universiteit van Gent in België aangegaan om swart akademici in die veld van bedryf- en kliniese sielkunde op te lei.
|
|
|
|

Proff. Jaco Pienaar van WorkWell en Cara Jonker van bedryfsielkunde.
|
|
|
|
Prof. Jaco Pienaar van WorkWell, die navorsingseenheid vir ekonomiese en bestuurswetenskappe, sê onderhandelinge is sowat twee jaar gelede met prof. Johnny Fontaine van die Universiteit van Gent begin om navorsing oor kruiskulturele emosionele vaardighede te doen.
Hy sê Fontaine het sowat €250 000 (nagenoeg R2,7 miljoen) bewillig om drie geskikte swart nagraadse studente te soek wat ’n loopbaan in die akademie oorweeg en om hulle doktorale studies te doen. Die studente sal vier maande elk van die drie jaar in België deurbring waar hulle onder Fontaine se leiding sal studeer. Poste is ook by die universiteit geskep om die kandidate aan die onderrigkant van bedryf- en kliniese sielkunde sal blootstel.
Prof. Cara Jonker van die vakgroep bedryfsielkunde sê met die studie van kruiskulturele emosionele vaardighede word daar gekyk na wat die betekenis van emosies oor kulture heen beteken en ook na die betekenis van emosies ná emosionele episodes binne die werkplek.
“Ons doen navorsing binne die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat ook beteken dat ons op dié wyse ’n gemeenskapsdiens te kan lewer.”
Sy sê ’n informele samewerkingsooreenkoms het voor dié projek tussen haar en Fontaine bestaan oor die betekenis van emosies en dat daar tans aan ’n internasionale boek gewerk word waarin die Suid-Afrikaanse data oor die navorsing opgeneem sal word.
Pienaar sê hulle hoop om vir die SAPD ’n emosionele vaardigheidsontwikkelingsprogram te vestig om nuwe rekrute op te lei om emosionele situasies beter te kan hanteer. Hy sê hulle doen reeds van hulle nagraadse studies op dié terrein binne die polisiediens.
Hy sê die doel van die ooreenkoms is om swart akademici te ontwikkel en internasionale opleidingsgeleenthede vir Puk-personeel te bied. Derdens sal hulle ook die vaardigheidsontwikkelingsprogram vir die SAPD kan ontwikkel.
Prof. Michael Temane van die skool vir psigososiale wetenskappe binne die fakulteit gesondheidswetenskappe werk ook nou saam met die program.
|
|
|
Gepubliseer deur Nikki Nel op 9 Maart 2010.