Printer-friendly version
Druk
Share this
 

Biosafety SA maak tweede toekenning aan NWU-Puk

Die Skool vir omgewingswetenskappe en -ontwikkeling op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit het nog ʼn toekenning vir navorsing oor geneties gewysigde (GM)-verwante bioveiligheid ontvang.
 

 

2010_biosafety_360
Proff. Johnnie van den Berg en Carlos Bezuidenhout van die Skool vir omgewingswetenskappe en ontwikkeling van die NWU-Puk.

 

 Die projekbestuurder van Biosafety South Africa , dr. Anita Burger, sê die interdissiplinêre benadering van dié skool tot GM-navorsing is besig hulle as die leidende omgewingsbioveiligheid-navorsingsgroep in die land te vestig.
  Prof. Carlos Bezuidenhout, voorsitter van die vakgroep mikrobiologie, het vanjaar befondsing van Biosafety South Africa ontvang vir navorsing oor die teiken- en nie-teikeneffek van Bt-mielies en katoenprodukte in Suid-Afrika.  Bt-mielies en Bt-katoen verwys na mielies en katoen wat geneties gewysig is om ʼn insekdodende proteïen van die bakterie Bacillus thuringiensis (Bt) te produseer, wat die GM-mielies meer weerstand teen insekte bied.
  Burger sê die projek streef drie doelwitte na, om die genetiese prosesse wat verband hou met die ontwikkeling van weerstand van die Afrika-stamboorder teen Bt-mielies te ondersoek, die potensiaal van geenvloei na akwatiese spesies wat in die nabyheid van Bt-mielielande voorkom, te bestudeer en om ʼn evaluering te doen van moontlike katoen bolwurmweerstand teen Bt-katoen in Suid-Afrika.
  “Hierdie aspekte van insekweerstandbestuur in mielies en katoen het tot dusver min aandag in Suid-Afrika geniet en kan belangrik wees waar Bt-mielies en katoen na aan mekaar geplant word.”
  Die toekenning van Biosafety South Africa volg op die een wat in April verlede jaar aan prof. Johnnie van den Berg van dieselfde Skool gemaak is.  Die doel van Van den Berg se projek is om die effek van Bt-mielies op geselekteerde nie-teiken insekte, amfibieë en erdwurms te bestudeer.
  Burger sê die twee projekte vorm deel van die strategiese bioveiligheid-navorsingsprogram van Biosafety South Africa . “Dié navorsing sal bydra tot inligting wat belangrik is in omgewingsrisiko-assessering en -monitering van GM-organismes ter ondersteuning van die nasionale regulerende raamwerk.  Hierbenewens dra die projek direk by tot kapasiteitsbou in bioveiligheidsnavorsing in Suid-Afrika deur die voorsiening van drie nagraadse beurse.”
 

 Gepubliseer deur Nikki Nel op 2 Maart 2010.