Printer-friendly version
Druk
Share this
 

Puk Kunste vier dertig jaar

Puk Kunste bied later vanjaar vier uitsonderlike konserte aan om sy dertigste bestaansjaar te vier.
  Drie van die konserte word in April aangebied en die vierde projek in Augustus vanjaar.

 

puk_kunste_30jaar
Die personeel van Puk Kunste wat vanjaar die dertigjarige bestaan van dié departement vier. Agter is mnre. Pieter de Bruin (Alabama Produksies), Chris de Bruyn (Artéma), me. Christina Naurattel (Galery) en Carla Joubert (Galery). In die middel is mnre. Solomon Khumalo (teatertegnies), Paul Khumalo (teatertegnies), Corné Jackson (Artéma) en me. Joalet de Beer (adminstratief). Voor is mnr. Glen Cunniff (Alabama Produksies), me. Amé Snyman (Galery), mnre. Peet Ryke, Horst Bütow (direkteur), me. Christa Cloete (senior administratief), Veleska Smith (Artéma) en prof. Awie van Wyk (Puk Koor).

 

  Op 14 April vanjaar word ’n konsert met Die Ses Snare aangebied, met Mathys Roets, Blackie Swart, Mel Botes, Wouter van de Venter, Leon Ecroignard en Thean Kotze – ’n opvolgproduksie van die een wat verlede jaar op Aardklop uitverkoop het.
  Op 27 April bied Puk Kunste ’n Russiese Gala Ballet deur die St Petersburg Male Ballet Company. Mans sal ook die vroulike rolle in dié ballet vertolk en is ’n unieke uitvoering deur ’n groep wat wêreldwyd beroemd geraak het.
  Op 28 April word Afri-Frans aangebied met die Franse sangeres, Myra Maud, wat bekende en gewilde Afrikaanse liedjies in Frans sal sing. Die produksie is gegrond op die nou reeds goue status CD met dieselfde titel. Laurika Rauch, Anna Davel en Mathys Roets tree saam met haar op en Anna-Mart van der Merwe sal digkuns voorlees.
  In Augustus word ’n spesiale konsert van die oud-Puk, Ralph Rabie (Johannes Kerkorrel), se werke gehou. Amanda Strydom en Jan Blohm sal saam met die Puk Koor, Puk Simfonie-orkes en soliste optree.

 

Nuwe naam
Dié departement het onlangs ook sy naam verander van die departement kultuur of die kultuurkantoor soos dit bekend was.
  Die direkteur van Puk Kunste, mnr. Horst Bütow, sê die naamsverandering was nodig omdat hulle hoofsaaklik met die kunste werk en die woord kultuur ’n baie breë begrip is wat oor tyd ’n ander betekenis gekry het. “Ons taak is om die kunste te bevorder en nie breë kultuur nie.”
  Voorts sê hy is dit ’n parallelle eenheid as Puk Sport, beide nodig om aan studente ’n gebalanseerde studentelewe te bied.
  Dié nuwe bedeling het ook meegebring dat die Galery by die Ferdinand Postma biblioteek, die galery in die botaniese tuin en die kampus se amptelike kunsversameling onder Puk Kunste sorteer.
  Me. Christina Naurattel, kurator van die Galery sê sy sien uit daarna om deel van Puk Kunste te wees en voel dit is die regte plek vir hulle. "Die departement het ons met ope arms verwelkom en ons sien uit daarna om deel te vorm van so 'n entoesiastiese groep kollegas."
  Bütow sê in dieselfde omwenteling staan die studenteraad se kultuurraad ook voortaan as die SR kunsteraad bekend.

 

Dienste van Puk Kunste
Die afdeling van studente dienste bestuur ’n reeks fasiliteite wat in diens van die studente, personeel en publiek staan soos die Sanlam-ouditorium, Cachet-kleinteater, Totius-saal, Heimat-saal en die amfiteater.
  Die Alabama-Produksiehuis bestaan nou twee jaar en het ontstaan ná die bekende Alabama Studentegeselskap ontbind is. Die produksiehuis bestaan uit vier dele, ’n nuwe klankateljee wat puik ingerig is om opnames en produksies van CD’s te hanteer. Raad en ondersteuning word deur ’n goed opgeleide tegniese span aan talentvolle studente gebied.
  Voorts word ’n unieke studente CD-etiket gevestig en word ’n groot verhoogproduksie elke twee jaar op die planke gebring. Vanjaar se produksie is dié van Johannes Kerkorrel. Mnr. Pieter de Bruin bied die musikale leiding en Glenn Cunniff is die produksiehuis-bestuurder.
  Puk Kunste huisves ook ’n  nasionale kunste hoofkantore, die Kuesta Vereniging (koorfees), asook Jeunesses Musicales Assosiaat, ’n tak van die internasionale liggaam wat musiek onder die jeug bevorder.
  Artéma, die Instituut vir kunstebestuur en administrasie, is ’n integrale deel van Puk Kunste en spits hom toe op die aanbieding van kursusse in kunstebestuur en administrasie.
  Ander kunsgroepe wat deur Puk Kunste bestuur word is die Puk Koor, Boulevard Harmoniste, Puk-Serenaders, Thalia-toneel, Buzzin' Blaasensemble, Divaco, Disfunctional Beat en die Puk Simfonie-orkes.

 Gepubliseer deur Vincent Eastes op 15 Februarie 2010.