
Puk-teenstaanders gaan dubbeld sien
‘n Mens sal vanjaar se Varsitybeker-aanspraakmakers verskoon as hulle dubbeld sien, wanneer hulle die volgende twee maande teen die span van die NWU-Puk te staan kom.
Nie net sal die Pukke poog om hul teenstanders met hardloopugby dronk te slaan nie, maar dié span sal dit boonop met ‘n identiese tweeling in sy geledere doen.
Die 21-jarige Jacobs-broers, Niëll en Ruan, sal onderskeidelik die nommer 10- en 13-truie dra, wanneer die Potchefstromers Maandag in Pretoria in hul eerste wedstryd van dié glanstoernooi teen Tukkies te staan kom.
“Ons sien verskriklik uit na die Varsitybeker en veral ons eerste wedstryd,” het Ruan gesê.
“Ons kom van Pretoria af en om daar teen Tuks te speel gaan baie spesiaal wees. Al my familielede en vriende ondersteun nou egter die Puk.”
Niëll, die ouboet met ‘n volle 30 sekondes, is reeds sedert Junie verlede jaar in Potchefstroom, maar Ruan het hom eers vroeër vandeesmaand by die NWU-Puk-

Dubbeldoor-gevaar... Ruan (links) en Niëll Jacobs, twee van die NWU-Puk se grootste rugby-aanwinste, sal teenstanders van aanstaande week af met hul dartellopies in die Varsitybeker treiter.
rugbyinstituut aangesluit. “Om afgerig te word deur iemand van Rudy (Joubert, Puk-breier) se gehalte is ‘n kans wat nie een van ons twee kon laat verbygaan nie. “Hy het elke dag nuwe idees en weet wat dit verg om op die topvlak te speel.”
Sover vasgestel kan word is dié twee die eerste identiese tweeling nóg om dié span saam te verteenwoordig.
“Dis nie juis iets nuut vir ons nie, aangesien ons ook die eerste identiese tweeling was om saam vir ons hoërskool se eerstespan (Affies) en daarna vir Kovsies te speel,” het Ruan gesê.
“Ons het dit al oorweeg om ons meisies te prober flous en op mekaar se afsprake te gaan, maar ons kon nog nooit die moed bymekaarskraap nie.
“Ons hou van dieselfde musiek en rolprente, maar daar is ook heelwat verskille. Niëll is so bietjie groter as ek en is ook die ernstiger een, terwyl min dinge my pla.”
Een ding wat dié twee wel in gemeen het is hul aspirasie om eendag die Groen-en-Goud te dra.
“Potchefstroom is die ideale plek om ons voor te berei op die volgende vlak en boonop is daar niemand wat ek eerder langs my op die veld wil hê nie, as Niëll.”
“Ons ken mekaar uitstekend en weet wat die ander een gaan doen, voordat hy self nog weet. Hopelik sal dit ons help om Tukkies te klop en die Varsitybeker te wen.”
Gepubliseer deur Vincent Eastes op 26 Januarie 2010.


