Printer-friendly version
Druk
Share this
 

NWU-studente vertoon goed by CIMA se Internasionale Uitdaging 2011

Ben Volkwyn, Carina van Zyl, Ohna Briers en Nicus Davel het Noordwes-Universiteit trots gemaak deur die tweede plek by CIMA (Chartered Institute of Management Accountants) se Internasionale Sakeuitdaging te behaal.

  Die 30 spanne wat vir die jaarlikse kompetisies ingeskryf het, is na net vier finaliste uitgedun, en die studente van Noordwes-Universiteit het uitstekend gevaar deur hulle voldoening aan die uitdaging se kriteria en deur innoverende oplossings vir werklike sakeprobleme te vind, soos dit deur CIMA gestel is. 

CIMA kompetisie Maleisie

Die span van die NWU-Puk wat verlede jaar vierde in die wêreldwye kompetisie was in Singapoer. Van links is Mar-Louise van der Merwe, Thia Louw, me. Rona Louwrens (mentor van die groep), Marli Theunissen en Ben Volkwyn (wat ook vanjaar in die span was).


  Samantha Louis, CIMA se Suider-Afrikaanse streeksdirekteur, sê: "Die inskrywings was almal van 'n baie hoë standaard vanjaar, wat dit moeilik vir ons beoordelaars gemaak het om 'n wenspan te kies. CIMA sien almal wat ingeskryf het as wenners, maar veral die vier spanne wat na die finaal toe deurgedring het."
  Die vier studente van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, wat hulleself "Tunajibu Consulting" noem, het 'n professionele aanbieding gedoen wat hulle 'n tweede plek besorg het onder die 30 spanne wat hulle verslae vir CIMA se 2011-Internasionale Sakeuitdaging ingehandig het. Spanne het van die Universiteit van Johannesburg, KwaZulu-Natal, Kaapstad, Vrystaat, die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, Sentrale Universiteit vir Tegnologie en Noordwes-Universiteit gekom. Die NWU se span het verlede jaar koning gekraai in Maleisië.
  CIMA se Internasionale Sakeuitdaging gee 'n opdrag aan aspirantbestuursrekenmeesters wat van hulle vereis om in spanne van vier te werk om werklike sakeprobleme op te los en planne vir besigheidsgroei en -onderhoud te maak. Tydens die opening van die plaaslike finaal het die hoofbedryfsbeampte van Absa Capital, Charles Russon, gesê die maatskappy is trots om 'n ondersteuner van 'n kompetisie te wees wat "alles oor saketalent" is en dat hierdie inisiatief handel oor die "identifisering en ontwikkeling van jong talent in toekomstige leiers wat na volhoubare, innoverende sake-oplossings in Suid-Afrika streef. Wat my betref is al vier finaliste wenners."
  ‘‘CIMA en sy vennote in die kompetisie, Barclays en Absa Capital, is verheug oor die resultate en wens die wenspan van die Universiteit van Johannesburg alles van die beste toe vir die strawwe mededinging wat hulle in die gesig staar in die internasionale finaal in Chengdu, China in Julie vanjaar; waar hulle Suid-Afrika teen 16 ander deelnemende lande sal verteenwoordig," sê Louis.
  Die Internasionale Sakeuitdaging groei jaarliks en CIMA moedig alle universiteite aan om in te skryf vir wat beskryf word as 'n “geleentheid vir jong slim talent om op die gebied van bestuursrekeningkunde uit te blink”.
  CIMA, gestig in 1919, is die wêreld se grootste professionele liggaam vir bestuursrekenmeesters en het 183 000 lede en studente in 168 lande wat in die sakehartklop werk.

 Gepubliseer deur Kiewiet Scheppel op 4 Augustus 2011.

 

NWU Pukke FacebookNWU Pukke TwitterNWU Pukke MobisitePukkeTv