Printer-friendly version
Druk
Share this
 

Koers-konferensie bespreek uitdagings in onderwyslandskap

Koers: Tydskrif vir Christelike Wetenskap, het onlangs ’n internasionale konferensie oor Worldview and education in Potchefstroom gehou. Die doel van hierdie konferensie was om die uitdagings in die Suid-Afrikaanse onderwyslandskap te bespreek, veral deur die identifisering van onderliggende lewensbeskoulike kwessies.


Prof Siebren Miedema van die Vrije Universiteit (Amsterdam) oorhandig van sy werke aan me Jubrie Oosthuizen van die Ferdinand Postma-biblioteek. Prof Miedema was ’n gasspreker by die Koers-konferensie en het ’n aantal van sy boeke aan die Biblioteek geskenk.

Verskeie onderwyskundiges, vakspesialiste en internasionaal gerekende filosowe het saamgesels om konstruktiewe bydraes met ’n sterk filosofiese begronding en fyn normatiewe ingesteldheid, relevant vir die Suid-Afrikaanse konteks, te maak. Video-uittreksels van voorafonderhoude met persone wat in tersiêre onderwys in (Suid-) Afrika betrokke is, is op die Koers-webblad (www.koers.co.za) geplaas en het lewendige belangstelling uitgelok.
  Tydens die konferensie het prof Yusufu Turaki van Nigerië en prof Bennie van der Walt (NWU se Potchefstroomkampus) die Suid-Afrikaanse onderwysuitdagings binne die groter Afrika-konteks gesitueer. Sowel dr Samson Makhado van ACSI (Association for Christian Schools International) en prof James Olthuis (Institute for Christian Studies, University of Toronto), het klem gelê op die getraumatiseerde Suid-Afrikaanse samelewing en die belang van geregtigheid, heling en vergifnis vanuit ’n post-postmoderne konteks. Proff Gerrit Glas, Govert Buijs en Siebren Miedema van die Vrije Universiteit in Amsterdam het nuwe moontlikhede vir goeie onderwys binne ’n plurale samelewing verken. Prof Danie Strauss van die Universiteit van die Vrystaat het op ’n indrukwekkende wyse ’n filosofiese raamwerk geskets waarin die voorafgaande verstaan kon word.


Konferensiegangers dans saam met die NWU-koor tydens die gala-aand van die Koers-konferensie oor “Worldview and education”.

  Die konferensie was ook ’n viering van die geakkrediteerde tydskrif, Koers, se 75-jarige bestaan. ’n Optimistiese, warm atmosfeer het geheers – ten spyte van Potchefstroom se koue weer. Bonusse, soos ’n energieke uitvoering van Setswana-, Zoeloe- en Sophiatown-danse, ʼn besoeke aan Maropeng en die

Apartheidsmuseum, Prof Rantoa Letšosa van die NWU se Potchefstroomkampus tydens die internasionale Koers-konferensie.

’n wildrit en ete in die Vredefortkoepel, asook sanguitvoerings deur die Universiteitskoor en ’n kerkkoor van Ikageng, het ruimte geskep sodat kongresgangers mekaar (en Suid-Afrika) op meer as net ’n intellektuele vlak kon verstaan.
  Prof Annette Combrink, voormalige redakteur van Koers, het tydens die gala-aand klem gelê op Koers se besondere band met die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, asook met die NWU. Helena Hoogstad, tans redakteur van Koers, het die hoop uitgespreek dat hierdie positiewe verhouding sal voortduur en die Noordwes-Universiteit bedank vir hulle finansiële steun vir die konferensie. Hoogstad het terselfdertyd die onafhanklike aard van die tydskrif beklemtoon en gestel dat die tydskrif se toekomsvisie insluit dat Koers: Tydskrif vir Christelike Wetenskap, ’n belangrike gespreksruimte sal wees waar akademiese, lewensbeskoulike denke vanuit verskeie kontekste verwelkom word.

 Gepubliseer deur Kiewiet Scheppel op 19 Julie 2011.