
Prof Tiaan Brink staan aan hoof van SA-farmakologie
ʼn Reuse eer het ʼn professor aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus te beurt geval. Prof Tiaan Brink, verbonde aan die NWU-Puk se Skool vir Farmasie, is pas benoem as die president van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Basiese en Kliniese Farmakologie.
![]() |
Prof Tiaan Brink. |
“Dit is vir my 'n baie groot eer, maar tegelyk ook 'n besonderse uitdaging. Ek sien my rol as een van dienslewering aan lede, die wetenskap en gesondheidsorg in die land. My verkiesing bied die geleentheid om in spanverband voort te bou op die inisiatiewe van die vorige bestuur, wat reeds 'n groot impak gemaak het en 'n basis vir nuwe ontwikkelings gelê het.”
Behalwe vir dié groot eer, beklee prof Tiaan ook die posisies as voorsitter van die Internasionale Vereniging se Onderrigkomitee, sowel as hul interne ouditeur. “As ek terugkyk, kan ek nie anders as om die talle geleenthede wat vir my geskep is raak te sien nie, asook die veelvuldige ondersteuning en deurlopende mentorskap deur kollegas. Prof Douglas Oliver, wat 'n besondere rol as mentor gespeel het, verdien om vermeld te word.
Die SA Vereniging van Basiese en Kliniese Farmakologie dien farmakoloë vanuit al die mediese en aptekerskole in die land, navorsers uit verwante dissiplines, mediese praktisyns, aptekers, en die farmaseutiese industrie. Daar is 'n sterk klem op kapasiteitsbou onder jong wetenskaplikes, asook die skep van geleenthede vir farmakoloë om internasionaal deel te neem en kontinentaal die leiding te neem. Die bestuur van die SA Vereniging van Basiese en Kliniese Farmakologie het 'n gesonde kultuur van samewerking en 'n geskiedenis van visionêre en innoverende inisiatiewe. Die Vereniging het reeds 'n merk gemaak op nasionale, kontinentale en internasionale vlak, waar lede op verskillende wyses op besture dien en ander wetenskaplike bydraes lewer. “Ons bied onder andere die wêreldkongres vir Basiese en Kliniese Farmakologie in Julie 2014 in Kaapstad aan, waar ons sowat vier duisend wetenskaplikes en praktisyns van regoor die wêreld, asook die farmaseutiese industrie, verwag. Omdat dit die eerste keer in Suid-Afrika, en ook op die kontinent is, bied hierdie kongres besondere geleenthede vir netwerk, kapasiteitsbou en 'n uitstalvenster van kundigheid binne Afrika.
Prof Tiaan se termyn as president van die vereniging is tipies vir drie jaar. Hierna is 'n tweede termyn van drie jaar ook moontlik met herverkiesing. Hy het sy voor- en nagraadse studies aan die voormalige PU vir CHO voltooi. Sedert hy in 1990 met sy nagraadse studies begin het, was hy reeds by klasgee betrokke, maar sy aanstelling is vanaf 1994 permanent. Sedertdien was hy slegs in 1998/1999 vir sy nadoktorale studies by die Universiteit van Michigan, VSA betrokke, maar andersins by die NWU-Puk. “Ek sien myself as is 'n ingeburgerde Potchefstromer en volbloed Puk.”
Hy meen daar lê baie opwindende tye vir Farmasie, oftewel aptekerswese, in Suid-Afrika voor. Die land het reeds 'n tekort van 'n beraamde twaalf duisend aptekers. “Dit impliseer dat Farmasieskole landwyd hul kapasiteit drasties sal moet verhoog – selfs byna verdubbel. Daar word verder vandag baie meer van aptekers in hul professionele rol as verskaffer van farmaseutiese sorg verwag, sodat hierdie vir aptekers 'n geleentheid skep om hul unieke kundigheid nog meer optimaal aan te wend en bre steun daarvoor te ontvang.” Volgens Brink het die Suid-Afrikaanse Aptekersraad pas aangedui dat kliniese aptekers binnekort as spesialiteitsarea registreerbaar sal wees, sodat dit 'n nuwe loopbaangeleentheid binne aptekerswese skep en 'n beduidende en positiewe verskil aan gesondheidsorg sal maak.
Prof Tiaan meen die NWU-Puk is op die regte pad en het ook sy doelwitte gedeel. “Ek sou baie graag sien dat die naam van die universiteit in die toekoms steeds hoog gehou en raakgesien word. Ons speel 'n leidende rol op die gebied van farmakologie in Suid-Afrika en word reeds op die kontinent en internasionaal erken vir ons waardevolle bydraes. Om steeds hierdie rol te bly vertolk en selfs uit te brei, sal net deur volgehoue harde werk en innoverende insette moontlik wees.
Gepubliseer deur Kiewiet Scheppel op 9 Junie 2011.



