NWU, Potchefstroomkampus, Nuus: Eerste simulasiepop in SA

Eerste simulasiepop in SA

Die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus het pas geskiedenis gemaak deur die eerste ontvanger van ʼn mediese simulasiepop in Suid-Afrika te word. Die simulasiepop gaan gebruik word om mediese- en farmaseutiese studente op te lei.

Susie 2

Susie word deur 'n rekenaarstelsel beheer en kan dus enige toestande simuleer waarmee aptekers in 'n kliniek in aanraking mag kom.


  Volgens dr Johan Lamprecht aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit se Farmasie Fakulteit, is “Susie” vanuit Amerika, teen ʼn bedrag van R250 000, ingevoer. “Susie maak deel uit van die nuutste tegnologie en nader as ʼn regte pasiënt sal jy nie kry nie. "Sy haal asem, sy het ʼn sirkulasiestelsel, bloeddruk, hart- en longklanke, sy kan inspuitings kry, haar oë knip en sy kan selfs praat, danksy die mikrofoon wat aan die instrukteur gekoppel is. Sy word deur ʼn rekenaarstelsel beheer en kan dus enige van die toestande simuleer waarmee die aptekers in ʼn kliniek in aanraking mag kom." Susie is ook ten volle mobiel en word met geen elektriese drade aan haar rekenaarbeheerstelsel gekoppel nie. Dit maak dit makliker om die pop rond te skuif en verskeie mediese noodtoestande te simuleer.
  Wat egter baie indrukwekkend is, is die feit dat die student, wat in opleiding is, selfs by Susie bloed kan trek en ʼn vingerprik kan uitoefen. Verskillende siektetoestande kan nageboots word deur die pop se asemhaling te versnel, en selfs diabetiese swere kan onder die voete kan voorkom. Volgens Lamprecht verseker dié simulasiepop dat die jong aptekers, teen die tyd dat hulle die universiteit verlaat, in so ʼn mate gereed sal wees soos wat dit in die verlede nooit moontlik was nie. Die nuwe inisiatief gaan gepaard met die opening van die eerste simulasie-apteek en -kliniek in die land, wat pas op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit geopen is.
  "Die doel van die kliniek, apteek en Susie is om die teorie en praktiese toepassing byeen te bring. In die gesimuleerde apteek en kliniek, sal die studente elke taak kan uitvoer, en ons sal in staat wees om hulle te assesseer soos hulle werk.”

 Gepubliseer deur Kiewiet Scheppel op 2 Junie 2011.