
Gehoorgestremde verwerf graad op NWU-Pukke
Hy laat nie ’n klompie desibels tussen hom en sukses staan nie.
![]() |
Nico Potgieter, ’n gehoorgestremde honneursstudent op die Potchefstroomkampus, het pas sy BCom Geoktrooieerde Rekeneningkunde-graad verwerf. |
Nee wat, as ’n mens hard werk, op God vertrou en ’n goeie ondersteuningsraam-werk het, kan jy enigiets bereik, glo mnr Nico Potgieter, ’n gehoorgestremde hon-neursstudent op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus wat pas sy BCom Geoktrooieerde Rekeneningkunde-graad verwerf het.
Nico is sedert sy kinderjare gehoor-gestremd, maar ten spyte daarvan was hy in 2007 dertiende van die top 20 matrikulante in die Noordwes-provinsie en het hy tydens sy voorgraadse studies vir BCom (Geoktrooieerde Rekenmeester) aan die einde van elke jaar al sy vakke met onderskeiding geslaag.
Terwyl mense met normale gehoor klanke tussen 40 en 60 desibels kan hoor, kan Nico sonder sy gehoorapparate met sy regteroor net klanke bo 60 desibels en met sy linkeroor klanke in die hoë vyftigs hoor. Dit beteken dat hy sonder gehoorapparate feitlik geen spraak teen normale intensiteit kan hoor nie. Die gevolge daarvan is gewoonlik spraakprobleme, taalvertraging, leerprobleme en swak ouditiewe aandag.
In Nico se geval is dié negatiewe gevolge grootliks afgeweer.
Volgens Nico se ma, me Retha Potgieter van die Skool vir Biochemie op die Potchefstroomkampus, is dit te danke aan die feit dat Nico van kleinsaf blootgestel was aan intensiewe taalopleiding, dat hy as gehoorgestremde in 'n hoofstroomskool kon skoolgaan.
Dié daaglikse vier uur lange taalopleiding was eintlik gemik op Nico se ouboet, Gielie, wat 'n meervoudig gestremde dowe is. Nico was vyf maande oud toe Gielie, wat boonop ook verstandelik gestremd is, se gehoorverlies uiteindelik akkuraat gediagnoseer is. As baba en kleuter was Nico altyd binne hoorafstand terwyl Retha vir Gielie die taalopleiding gegee het – iets waarby hy op die ou end baie baat gevind het.
Behalwe sy gehoorgestremdheid, het Nico ook 'n lae spiertonus en moes hy reeds op baie jong ouderdom spraak-, fisio- en arbeidsterapie kry. Saam met die taalopleiding het dit hom egter in staat gestel om na 'n gewone skool, Laerskool Worcester-Noord in Worcester, te gaan.
Nadat hy aanvanklik moeilik aangepas het op skool, het hy sedert graad drie begin presteer en tydens sy hoërskoolloopbaan in Hoërskool Ferdinand Postma, in Potchefstroom, het hy dié akademiese prestasie voortgesit.
Terwyl hy op skool bekend was as die outjie wat voor in die klas sit omdat hy doof is, het die groter klasse op universiteit meegebring dat Nico se medestudente hom eers as persoon, en daarna as gehoorgestremd leer ken het.
“My dosente is ook baie hulpvaardig en gee nie om om iets te herhaal as ek dit nie gehoor het nie,” sê Nico. Vir 'n gehoorgestremde kan die lawaai van 'n vrolike studente-omgewing nogal steurend wees, maar volgens Nico skakel die moderne gehoorapparate wat hy het, dié agtergrondgeraas darem grootliks uit.
Hoewel hy nie lippe lees nie, vind hy dit tog moeiliker om te hoor wanneer iemand wegkyk as hulle met hom praat of wanneer die persoon agter hom staan en praat.
Nico glo dat sy gehoorgestremdheid hom nie eendag in sy loopbaan as ouditeur sal pootjie nie. Hy sê as hy wel die geleentheid sou kon kry om iets in sy lewe te verander, sou hy dalk meer sportief wou wees – iets wat die lae spiertonus tans nie moontlik maak nie.
Daar is talle uitblinkers tussen die NWU-studente – ook ’n hele aantal studente wat gestremd is. Mense soos Nico is egter een van die min merkwaardige studente wat in albei groepe val.
Daarvan getuig sy klinkklare suksesstorie immers.
Gepubliseer deur Kiewiet Scheppel op 2 Junie 2011.



