|
Die opening van die ultramoderne simulasie-apteek en Eenheid vir Opleiding in Primêre Gesondheidsorg op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit (NWU), is die opleiding van aptekers in Suid-Afrika na ʼn heel nuwe vlak opgeskuif.
 |
|
Die opening van die ultramoderne simulasie-apteek en Eenheid vir Opleiding in Primêre Gesondheidsorg op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU), is die opleiding van aptekers in Suid-Afrika na ʼn heel nuwe vlak opgeskuif.
|
Die aptekers wat hul grade aan die Noordwes-Universiteit verwerf het, is in die bedryf alombekend vir die hoë standaard van hul opleiding en hul toewyding aan hul beroep, maar tot nou toe het hul eerste ondervinding in die “regte wêreld” nie onder die wakende oog van hul dosente plaasgevind nie.
Die opening van die nuwe fasiliteit verseker dat die jong aptekers, teen die tyd dat hulle die universiteit verlaat, in so ʼn mate gereed sal wees soos wat dit in die verlede nooit moontlik was nie.
"Die doel van die nuwe eenheid is om die teorie en praktiese toepassing byeen te bring. In die simulasie-apteek en kliniek, sal die studente elke taak kan uitvoer en ons sal in staat wees om hulle te assesseer soos hulle werk," sê dr Johan Lamprecht, dosent by die Skool vir Farmasie. "Soos wat hulle in die kursus vorder, sal die take wat aan die studente toegewys word meer gevorderd raak."
Die simulasie-eenheid is ʼn eerste in Suid-Afrika. Elkeen van die 18 stasies in die simulasie- apteek is met videokameras, luidsprekers en mikrofone toegerus sodat die dosente in staat is om presies te sien wat die studente doen en hoe hulle uitdagings ten opsigte van reseptering, wat aan hulle gegee word, hanteer. Die studente sal die rolle van aptekers en ook pasiënte aanneem en sodoende die praktiese omstandighede simuleer waarmee hulle in die werklik lewe in aanraking sal kom. Die video's sal aan die studente gewys word as deel van die geïntegreerde leerervaring wat die Skool vir Farmasie bied.
Die apteek het ook betaalpunte en drie verskillende bestelopsies sodat die studente die bestuur- en voorraadbeheervaardighede kan aanleer wat hulle in die toekoms nodig sal hê. Dit is ook aan skynrekeninge by mediesefondse gekoppel. "Dit is so na as moontlik aan die werklike lewe," het dr Lamprecht gesê.
In die primêre gesondheidsorgkliniek, val die klem op die onderrig van die studente, maar die ware ster is 'Susie'. Sy is ʼn mediese simulasiepop wat alles kan doen behalwe om aan die einde van die dag uit die kliniek te stap.
 |
|
Die ware ster by dié nuwe fasiliteit, is 'Susie'. Sy is ʼn mediese simulasiepop wat alles kan doen behalwe om aan die einde van die dag uit die kliniek te stap. Sy haal asem, het ʼn sirkulasiestelsel, bloeddruk, hart- en longklanke, kan inspuitings kry, haar oë knip en selfs praat, danksy die mikrofoon wat aan die instrukteur gekoppel is.
|
"Sy haal asem, sy het ʼn sirkulasiestelsel, bloeddruk, hart- en longklanke, sy kan inspuitings kry, haar oë knip en sy kan selfs praat, danksy die mikrofoon wat aan die instrukteur gekoppel is," het dr Lamprecht verduidelik. "Sy word deur ʼn rekenaarstelsel beheer en kan dus enige van die toestande simuleer waarmee die aptekers in ʼn kliniek in aanraking mag kom."
'Susie' is ten koste van R250 000 uit die VSA ingevoer.
Die eenheid sluit ook ʼn tien-bed hospitaalsaal in, wat ten volle toegerus is om studente die kliniese ondersoekprosedures te leer.
"Ons het reeds wêreldklas-aptekers opgelewer, maar ons verwag dat die nuwe eenheid daartoe sal lei dat die gehalte van die aptekers wat aan die NWU gradueer, selfs hoër sal wees," sê prof Awie Kotze, Direkteur van die Skool vir Farmasie.
Hoewel die apteek ten volle toegerus is, sal dié nuwe eenheid egter nie handel dryf nie, en is slegs vir opleiding- en navorsingdoeleindes daar gestel. Dit is moontlik gemaak danksy befondsing deur die Universiteit, ʼn kliniese subsidie van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding en privaat befondsers, insluitend ʼn aansienlike skenking van Clicks.
|