
Hulpmiddels vir beter skryfwerk
“Jy hoef nie ʼn graad in linguistiek te hê nie. ʼn Voorvinger is genoeg. Daar is ʼn Afrikaanse Speltoetser en ʼn Grammatikatoetser. Hulle is tot jou elektroniese diens.”
|
|
So skryf prof. Hans du Plessis, direkteur van die ATKV-Skryfskool. Hiermee wil hy rekenaargebruikers gerus stel dat dit nie meer nodig is om oorweldig te raak wanneer dit kom by korrekte skryfwerk in elektroniese mediums soos Microsoft® Word nie.
Die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT®) van die NWU-Pukke se skryfhulpmiddels help Suid-Afrikaanse rekenaargebruikers al ʼn geruime tyd om beter te skryf. CTexT se Afrikaanse SkryfGoed is die enigste versameling van vier Afrikaanse skryfhulpmiddels vir Microsoft® Office, en kan help met die volgende:
Vir beter spelling: Afrikaanse Speltoetser
As die enigste sogenaamde tweedegenerasie-speltoetser vir Afrikaans, is hierdie is tans die mees gevorderde Afrikaanse skryfhulpmiddel. Dit beteken dat die Speltoetser ingewikkelde prosesse soos morfologiese analise toepas om woorde te evalueer, eerder as om hulle bloot te vergelyk met die woorde in ʼn woordelys (soos met baie ander speltoetsers die geval is). Die hulpmiddel gee goeie voorstelle en alternatiewe vir spelfoute, herken outomaties nuwe samestellings en verbuigings van woorde en spog met uitgebreide woordelyste.
Vir beter taalgebruik: Afrikaanse Grammatikatoetser
Anders as ʼn speltoetser, het die grammatikatoetser se taak met meer as net spelling te make. CTexT se Afrikaanse Grammatikatoetser is die eerste Afrikaanse skryfhulpmiddel vir Microsoft® Office wat kan evalueer of taalgebruik in ʼn teks aan sekere konvensies en reëls (grammatika) van ʼn taal voldoen. Voorbeelde is:
• Woordkeuse (byvoorbeeld korrekte gebruik van die woorde rys, reis of ruis);
• Los- of vasskryf van woorde (byvoorbeeld besigheidsure); en
• Korrekte grammatikale konstruksies (byvoorbeeld lelik boom teenoor lelike boom).
Afgesien van grammatikale aspekte, kan ʼn grammatikatoetser ook bepaal of die teks aan sekere stylvereistes, soos leestekengebruik en konsekwente taalgebruik, voldoen.
Vir beter woordkeuse: Afrikaanse Tesourus
Kikker skryfwerk op met sinonieme vir meer as 40 000 woorde. Die Tesourus vergemaklik die opsoek van woorde en herken verwante woorde.
Vir beter bladuitleg: Afrikaanse Woordafbreker
Hierdie nuttige hulpmiddel help met die afbreek van woorde op die regte plek aan die einde van ʼn reël.
Tot jou elektroniese diens
Die spiksplinternuwe Afrikaanse SkryfGoed 2011 is volledig versoenbaar met Microsoft® Office 2010 en is nou beskikbaar op www.spel.co.za, of kontak verkope@spel.co.za.
Tot jou telefoniese diens
BlueTek Rekenaars (018-297 0164) is ook tot jou telefoniese diens vir enige navrae, bestellings of tegniese ondersteuning.
Vir meer inligting kontak Moira Müller by (018) 299 1541 of e-pos Moira.Muller@nwu.ac.za
Gepubliseer deur Kiewiet Scheppel op 12 Mei 2011.



