NWU, Potchefstroomkampus, Nuus: Blitsbokke tuis by Sports Village

Blitsbokke tuis by Sports Village

Die Suid-Afrikaanse nasionale sewesspan, die Blitsbokke, het Dinsdagmiddag in Potchefstroom aangeland en sal tot Sondag hier oefen ter voorbereiding van die Hong Kong-sewestoernooi.
  Paul Treu se span gaan tuis in die NWU-Puk se Sport Village en sal op die Fanie du Toit-sportterrein hul vaardighede slyp.

Sewes Bokke

Die Blitsbokke in ʼn speelse luim met hulle aankoms by die Sports Village.


  Die Blitsbokke het onlangs in die VSA se dobbelmekka, Las Vegas, hul eerste Sewe’s Wêreldkampioenskap-trofee in bykans twee jaar verower deur Fidji 24-14 te klop.
  Die Blitsbokke is in 2009 as wêreldkampioen gekroon, maar het sedertdien nie op alle silinders gevuur nie.
  Las Vegas kan wel die draaipunt wees wat die Blitsbokke hul eerste Hong Kong-kroon besorg.
  Treu het tydens ’n onlangse besoek aan die NWU-Puk sy lof vir die universiteit se geriewe uitgespreek en geskerts dat as die Puk vir die seëvierende Spanjaarde kon werk, dit dalk net dieselfde geluk vir sy span kan inhou.  
• Dit is nie die eerste keer dat Johan Duvenhage, NWU-Puk hoof: nie-koshuise en gasteverblyf, dié kompliment hoor nie. 

Johan Duvenage 255

Johan Duvenage, hoof van nie-koshuise en gasteverblyf op die NWU-Puk.

  Die Argentynse Vodacombeker-span, die Pampas, het met hul aankoms dieselfde gesê.
  Engelse Graafskap-krieketspanne, internasionale atlete sowel as die wêreld se voorste junior tennisspelers, vrouekrieketspanne en talle meer, het al in die Sports Village tuisgegaan.
  En, miskien die Springbokke ook later vanjaar…
  “Alles het met die Spaanse sokkerspan begin. Dit was ’n groot oomblik vir ons. Die Sports Village was toe net klaar en ons het met die Spanjaarde in die Wêreldbeker afgeskop.
  “Ná hulle die Wêreldbeker gewen het, het hulle vir ons gesê hul sukses het ook afgehang van waar hulle gebly het en hoe hulle hanteer was.
  “Dit was ’n groot pluimpie vir ons,” het Duvenhage gesê. Anders gestel, gewis ’n geslaagde vuurdoop. 
  Soos die Spanjaarde het die Argentyne reeds in die Sport Village-span se harte geklim.
  “Hulle voel klaar soos ons span en ons staan bankvas agter hulle.
  “Die terugvoer wat ons van die Pampas kry is baie goed. Hulle sê hulle word beter hier behandel as in hul eie land.
  “Dit is die standaard wat ons gestel het en dit is die standaard wat ons wil handhaaf. Ons probeer dit vir almal hier so huislik as moontlik maak.
  “Dit is vir ons lekker om te sien dat die gaste hulself hier so geniet want ons wil nie net hê hul besoek moet eenmalig wees nie. Ons wil langtermynverhoudings met hulle bou.”
  Volgens Duvenhage is sowat 90% van die Sports Village se besetting deur sportgroepe, hoewel die Village ook oop is vir die publiek.
  Van tyd vir asemskep is daar min, maar Duvenhage is dit eens dat hy dit geen ander manier sou wou hê nie.
  “Ek geniet my werk baie, daar is elke dag iets nuuts. Wat die lekkerste is, was om die Sports Village van die grond af te vat en nou, ’n jaar later, terug te kyk en te sien watter sukses dit is.”
• Berig deur Bertie Jacobs.

 Gepubliseer deur Kiewiet Scheppel op 17 Maart 2011.