Printer-friendly version
Druk
Share this
 

Eerstejaar ingenieurs wek internasionale belangstelling

Internasionale belangstelling in ‘n eerstejaarprojek is vir meeste nuweling-studente ‘n onwaarskynlikheid. Tot jy hierdie spulletjie ontmoet het.
  Verlede jaar was die eerste keer dat eerstejaarstudente by die fakulteit Ingenieurswese van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, die geleentheid gekry het om aan plaaslike praktiese gemeenskapprojekte te werk. Verskeie projekte is aangepak met die doel om die plaaslike gemeenskap se lewensgehalte te verbeter. Daar is selfs vir nywerhede konsepte ontwikkel. Intussen het die gewildheid en sukses van dié projekte so toegeneem, dat verskeie kliënte in Europa dié groep studente vanjaar genader het om hul projekte te ontwikkel.

Ing Blikkies

Eerstejaar ingenieurstudente het verlede jaar onder andere hul koeldrankblik herwinstasie-projekte suksesvol afgehandel.

Ing Hovercraft

Eerstejaar ingenieurstudente het verlede jaar onder andere hul “hovercraft”-projekte suksesvol afgehandel.


  Onder leiding van dosent Hannes du Toit, is ongeveer 20 projekte geïdentifiseer, waar sowat 51 spanne eerstejaars betrokke is. “Kliënte het verskeie konsep- en ontwikkelingsbehoeftes gehad. Nadat hulle gesien het wat ons in die verlede vermag het, het hulle die geleentheid raakgesien dat ons studente hul ontwikkelingsbehoeftes kan aanspreek. Ons het natuurlik die geleentheid aangegryp en dié projekte as deel van die vak: “Professionele Praktyk” geïnkorporeer.” Hy verduidelik dat die projekte nie net vir studente ‘n breër raamwerk gee van die hele ingenieursproses nie, maar skep egter ook die geleentheid vir blootstelling aan die praktyk, reeds in die studente se eerste studiejaar.
  Du Toit sê die studente is baie opgewonde oor hierdie projekte en dat hulle reeds fluks weggespring het. Kliënte sal die studente se vordering deur middel van Skype op die Internet kan dophou. Op 13 Oktober moet hierdie projekte voltooi wees, wanneer die kliënte van verskeie lande ook teenwoordig sal wees by die uitstalling daarvan. Volgens du Toit beteken die internasionalisering van die projekte, en die kontak met plaaslike nywerhede, ‘n reuse finansiële hupstoot vir Professionele Praktyk se aktiwiteite in die fakulteit. Dit kweek ook internasionale visie by studente.
  Plaaslike besighede was verlede jaar hoogs beïndruk met die projekte wat voltooi was. Dit het gestrek van ‘n solar-warmwaterstelsels, koeldrankblik herwinningstasie en spuitstelsel om die hokke te ontsmet by die DBV, tot ‘n sluisbeheerstelsel by die Vaalharts Waterskema. Studente het selfs ‘n “hovercraft” gebou wat op water en land kan beweeg. Alles in die naam van lewenskwaliteit!
  “Een van die projekte wat nog afgehandel moet word en inwoners van townships sal beïndruk, is die mobiele diere-dipstasie.” Hy verduidelik dat die dipstasie ‘n mobiele eenheid is wat gebruik word om honde en katte met die nodige chemikalieë teen parasiete soos bosluise en vlooie te behandel. Dit word gedoen sonder dat die diere deur ‘n mens hanteer word, wat onnodige stres by die diere veroorsaak en soms hanteerders se hare laat reis. “Hierdie dipstasie kan gebruik word om in townships te gaan en diere te behandel wat andersins nie dié behandeling sou kry nie.”
  Nie net is daar komplekse bou- en ingenieurswerk by die projekte betrokke nie, maar studente moet ook self die beplanning, bemarking, finansies en implementering suksesvol behartig. “Hierdie projekte bied nie net die geleentheid om een aspek van ingenieurswese te bemeester nie, maar berei die student voor vir die realiteit wat eendag op hom wag. Intussen, baat die gemeenskap ontsettend daarby,” sê du Toit.
  “Verlede jaar se eerstejaarprojekte was ‘n reuse sukses en daar is uiteraard besluit om dit ook in die tweedejaar van dié studierigting te implementeer. Die tweedejaarstudente se projekte sal meer gerig wees op die behoeftes van nywerhede. Studente moet egter self met projekidees vorendag kom, en die lewensvatbaarheid daarvan wetenskaplik ondersoek.” Na die voltooiing van die projekte, moet die studente self hul produk bemark en aan die nywerhede gaan verkoop. Hierdie geld sal dan aangewend word tot die ontwikkeling van die groep waarin hulle gewerk het, hetsy dit vir kursusse, opvoedkundige reise of verdere investering in hul opleiding.

 Gepubliseer deur Kiewiet Scheppel op 17 Maart 2011.