NWU, Potchefstroomkampus, Nuus: Franci Greyling wen prys met radiodrama

Franci Greyling wen prys met radiodrama

ʼn Bekende skrywer en medeprofessor in Skryfkuns aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit het pas ʼn derde prys vir haar radiodrama losgeslaan.

RSG radiodrama

Tydens die prysoorhandigingsgeleentheid was Stephenie Erasmus (Sanlam), prof. Franci Greyling, Magdeleen Krüger (bestuurder by RSG) en Piet Steyn (wenner van die eerste prys).


  Prof. Franci Greyling van die Skool vir Tale het vir die eerste keer haar hand aan ʼn radiodrama geslaan en die prys met Radio Sonder Grense en Sanlam se radiodrama-kompetisie gewen. Sy het R7 000 vir haar drama, Die vye is ryp, ontvang.
  Greyling is die skrywer van kinder- en jeugverhale soos Die meisie van Melrosehuis, Vleuels soos die arende en Formule drie, twee, een!  Sy is die stigter van Storiewerf, ʼn webtuiste vir kinder- en jeugboeke en jong skryftalent, wat sy reeds bykans elf jaar onderhou. Van haar kindergedigte is opgeneem in die nuwe Kinderverseboek en sy maak ook self kunstenaarsboeke. Greyling is ʼn vorige wenner van die Sanlamprys vir jeuglektuur, asook die Volkskasprys.
  Sy is betrokke by verskeie kreatiewe en skryfprojekte insluitende formele onderrig op voor- en nagraadse vlak, nie-formele skryfkursusse, gemeenskapsprojekte en interdissiplinêre kreatiewe en navorsingsprojekte. Boekmaak- en storievertelaktiwiteite waardeur deelnemers kreatief betrek word, vorm dikwels deel van die projekte.
  In 2009/2010 het sy drie maande as internasionale navorsingsgenoot by die Internationale Jugendbibliothek in München deurgebring waar sy veral na kreatiewe prenteboeke gekyk het.

 Gepubliseer deur Kiewiet Scheppel op 10 Maart 2011.