
Ondersoek lei tot bedanking van prim en onderprim
‘n Onafhanklike ondersoek deur ‘n senior advokaat is deur die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit aangevra ná ontgroeningspraktyke aan die lig gekom het.
|
|
|
Die visekanselier, dr Theuns Eloff (bo), en die kampusrektor, prof Herman van Schalkwyk (onder) het primaria en huisouers van koskhuise toegespreek. |
|
|
Dit het gelei tot die vrywillige bedanking van die primarius en die onderprimarius van Veritas manskoshuis. Hulle sal op 11 Maart die koshuis ontruim. Die res van die huiskomiteelede (HK) het almal skuld beken en is ‘n opgeskorte vonnis opgelê. Almal het hulle leierskapsbeurse verloor.
Die primarius en onderprimarius het ingewillig om op ‘n komitee van die rektor te dien wat beweerde wanpraktyke in koshuise op die kampus sal evalueer. Die res van die HK moet ook ‘n kursus bywoon oor hoe om eerstejaars op ‘n positiewe wyse in te burger. Hulle moet ook die res van die koshuis opvoed oor hoe om eerstejaars menswaardig te hanteer en hoe om die universiteit se strukture te gebruik om die doel te verwesentlik.
In ‘n vergadering met alle primaria en koshuisouers het die visekanselier, dr Theuns Eloff, en die kampusrektor, prof Herman van Schalkwyk, die ernstige gevolge wat die wanpraktyke vir die Universiteit kan inhou, beklemtoon. Eloff het gesê dit is jammer dat ‘n klein groepie koshuise die etos en waardes van die Universiteit oortree en die positiewe studentelewe in gevaar stel.
Van Schalkwyk het gesê hulle wil die uniekheid, trots en wenkultuur behou om ‘n gesonde akademiese omgewing uit te brei. “Ons wil nie die studentelewe aantas nie, maar wanpraktyke strook nie met die NWU-Puk se doenwaardes nie.”
Hy het ‘n beroep op die primaria gedoen om enige wanpraktyke aan te meld en hulle ‘n vensterperiode tot einde Maart 2011 gegee om na vore te kom.
Die Potchefstroomkampus is ernstig met die hantering van enige ontgroeningspraktyke. Daarom het die kampusbestuur, in oorleg met die studentleiers, beleide en opleidingsessies in plek gekry. Aanvullend is die gebruik van die “klagte-en-gedagte” SMS-lyn vir ouers en studente wat ‘n paar jaar gelede daargestel is, weer benadruk.
Volgens die jongste navorsing onder ouers van eerstejaarstudente het slegs sowat agt persent van eerstejaars die Ontvangs en Bekendstellingstydperk negatief ervaar. Enkele gebreke is ook uitgelig wat aangespreek word.
Van Schalkwyk sê hoewel alle wanpraktyke aangespreek word, is die gesonde studentelewe en tradisies van die kampus belangrik. “Ons wil die angel uittrek en die goeie behou.”
Gepubliseer deur Kiewiet Scheppel op 3 Maart 2011.




