NWU, Potchefstroomkampus, Nuus: Onderwysers kwesbaar vir siekte

Onderwysers kwesbaar vir siekte

• NWU-Puk doen navorsing in omgewing

Dit is algemeen dat lewensstylsiektes soos hoë bloeddruk, tipe 2 diabetes en depressie veral aan die toeneem is in verstedelikte gebiede en in sekere beroepe. Navorsing op verskeie onderwysers in die Potchefstroom- en Klerksdorp omgewing toon egter dat die onderwysberoep een van dié beroepe is wat meer vatbaar is as ander.

Hipertensie navorsing

Die groep mense het gehelp met die studie. Agter is Willem Burton (Roche), Chrissie Lessing en Ruan Kruger. Voor is Judy Prinsloo, David Louw, Pauline Tsimane, Dineo Seroalo, Pappie Motlhasedi, prof. Leone Malan en Ursula Ndhlovu (Roche).


  Volgens prof. Leone Malan, van die Noordwes-Universiteit Potchefstroomkampus se Hipertensie in Afrika Navorsing Groep (HART), is verskeie probleme die sondebok wat nie net daartoe lei dat onderwysers die sisteem verlaat nie, maar ook dat lewensbedreigende siektes gediagnoseer word. Sy sê kwellings soos toenemende druk, veranderinge in die kurrikula, onderwyser-leerderverhouding, dissiplinêre probleme, geweld in skole asook uitdagende streshanteringsvermoëns met betrekking tot prestasie, staan hier soos ‘n paal bo water uit.
  “Die vraag ontstaan of ons onderwysers hierdie druk kan hanteer.” Sy meen onderwysers het tog hiérdie beroep gekies omdat hulle ’n passie het vir die onderrig en opleiding van kinders. “Die passie kan versmoor word as die lading en eise te groot word. Streshantering word so lamgelê.”
  Navorsers by dié universiteit se Potchefstroomkampus het aangetoon dat ’n gebrek aan effektiewe streshanteringsvaardighede ‘n reuse impak kan hê op die onderwyser se algemene gesondheid. “Die onderwyser kan dus sielkundig probeer om die situasie te hanteer maar sy liggaam ervaar ’n gevoel van hulpeloosheid of oorgawe. Die gevolg kan die ontwikkeling van uitbranding en lewensstylsiektes prikkel.” 
  Malan sê dat indien effektiewe ondersteuning in die onderwyssisteem nie in plek is nie, kan die vraag ontstaan of daar regtig verwag kan word dat onderwysers gelukkig, maar ook gesond in hul professie kan wees.
  So wat is die oplossing hiervoor? Malan meen dat ‘n probleem eers aangespreek word as feitelike inligting beskikbaar is oor die psigologiese- en fisiologiese gesondheid van onderwysers. “Dit is waarom die HART groep (Hypertension in Africa Research Team) van die Noordwes-Universiteit tans besig is met ‘n unieke opvolgstudie. Die eerste fase van hierdie studie is reeds sowat drie jaar gelede onder meer as 400 onderwysers in die Potchefstroom en Klerksdorp omgewing gedoen, waarvan resultate openbarend ontstellend is.
  Dié projek is deur die Internasionale Wetenskaplike Komitee van die Metabolic Syndrome Institute (MSI) in Frankryk vereer as een van die drie beste projekte wêreldwyd. Navorsers het gefokus op die stryd teen die voorkoms van die metaboliese sindroom en die ontwikkeling van tipe 2 diabetes.
  Bevindinge van dié studie, is onder andere die verhoogde voorkoms van versteurings in hartritme, ’n suurstoftekort aan die hartspier, hoë bloeddruk of hipertensie, oksidatiewe stres, chroniese stres, rook- en alkoholgebruik. “In die meeste gevalle was hierdie simptome sterk geassosieer met verdikking van die wand van die hoofslagaar na die brein wat risiko vir beroerte inhou, renale disfunksie asook vergroting van die linker hartkamer.”
  Sy sê dit is baie opvallend dat ‘n afwesigheid van effektiewe streshanteringstrategieë voorkom. “Die onderwysers probeer dus om die situasie sielkundig te hanteer, maar liggamlik is dit nie die geval nie en bogenoemde simptome is aanwesig asook ‘n ervaring van depressie of uitbranding, angs en slapeloosheid. Hieruit kan afgelei word dat onderwysers onder ernstige stres verkeer en dat faktore soos werklading, swak gedrag van leerders, beperkte tyd en hulpbronne en gebrek aan erkenning, ‘n reuse bydrae lewer tot hul stresvlakke. Ek doen ‘n ernstige beroep dat skoolberaders vir die ondersteuning van die kind, sowel as die onderwyser beskikbaar moet wees.”
  Die doel van die opvolgstudie is veral om die mate van ontwikkeling van lewensstylsiektes en orgaanskade te bepaal en om dan ‘n drastiese veranderinge in lewensstyl te ondersoek en dit tydens verskeie programme aan te spreek en ontplooi.
  Die voormalige president van die “Dokters sonder Grense” organisasie, prof. Morten Rostrup van Noorweë, het reeds sterk belangstelling in dié studie getoon, en sal die universiteit se Potchefstroomkampus op 8 Februarie besoek. “Sonder hulp van die industrie en internasionale medewerkers is kanse op sukses egter klein. Rostrup is veral geïnteresseerd in die rol van die simpatiese senuweestelsel as die sneller in die ontwikkeling van kardiovaskulêre-renale siektes.” Hy sal na verwagting die HART span ook besoek om die beplanning van ‘n befondsingsprojek oor hipertensie in jong Afrikane te bespreek.
  Intussen is belangrike ondersteunende hulp van die internasionale farmaseutiese maatskappy, ROCHE, vir dié studie ontvang. Hulle het ’n outomatiese analiseerder ter waarde van 500-duisend rand aan die fakulteit gesondheidswetenskappe geskenk, wat tot gevolg lei dat data nou meer koste effektief verwerk kan word en inligting vinniger beskikbaar is vir navorsers.

 Gepubliseer deur Kiewiet Scheppel op 17 Februarie 2011.