Printer-friendly version
Druk
Share this
 

NWU-Puk groei indrukwekkende plantspesie

Die Victoria-waterlelie (Victoria cruziana), wat natuurlik voorkom in tropiese Suid-Amerika, is ‘n indrukwekkende plant waarvan verskeie pogings die afgelope 50 jaar in Suid-Afrika aangewend is om dit suksesvol te groei. Dié merkwaardige plant is tans tuis in die Noordwes-Universiteit Potchefstroomkampus se Botaniese tuin, en floreer asof dit in sy oorspronklike habitat groei.

botaniese tuin

Martin Smit, kurator van die Noordwes-Universiteit Pukkampus se Botaniese tuin, by ‘n indrukwekkende plantspesie wat hul tans groei.


  Volgens Martin Smit, kurator van die Botaniese tuin in Potchefstroom, is die plant eenjarig, wat beteken dat dit elke jaar opnuut van saad gegroei moet word. “Dit groei van 'n saad so groot soos 'n ertjie, tot 'n plant waarvan blare heelwat groter as 'n meter in deursnee kan vorm. Dit alles in een seisoen.” Meeste mense herken dié waterlelie vanaf foto’s waar peuters op die blare sit, wat terloops moontlik is. “Die besonderse plant trek gewoonlik skares mense by talle internasionale tuine, maar is bykans onbekend in Suid-Afrika.”
  Hy sê hoewel die plant alreeds groot is, veral in vergelyking met gewone waterlelies, behoort dit heelwat groter te word gedurende die laat somer. Kundiges by die Botaniese tuin verwag dat die plant ook binnekort sal begin blom en hoop om die blomme dan te bestuif. Sade sal geoes word en gedurende die winter bewaar word vir die volgende groeiseisoen. “Hopelik kan die besonderse plante ook in die toekoms in meer tuine in Suid-Afrika ten toon gestel word en so ook help om mense se belangstelling in die plantwêreld te prikkel.”
  Die plant wat tans te sien is by die NWU-Pukkampus se Botaniese tuin, is afkomstig van Victoria-sade wat van die Universiteit van Helsinki verkry is. Volgens Smit is die Victoria-plante reeds sedert die vroeë 1800's deel van di universiteit se versameling. Die Puk Botaniese tuin het aanvanklik, saam met die Manie van der Schijff Botaniese tuin by die Universiteit van Pretoria, dié sade ontvang en ontkiem. Ongelukkig is die eerste plant by die tuin in Potchefstroom deur visse in die tropiese dam opgevreet. Die Universiteit van Pretoria het goedhartig hulle saailing in Oktober verlede jaar aan die NWU-Puk Botaniese tuin geskenk, aangesien hulle nie oor die geskikte fasiliteite beskik om die waterlelie tot volwassenheid te kon groei nie.
  Die plant sal verseker sorg vir opgewondenheid onder diegene met groen vingers in Potchefstroom. Die NWU-Puk Botaniese tuin is oop vir lede van die publiek van Maandae tot Vrydae, 08:00 tot 16:30 en goeie nuus is dat die tropiese glashuis waar die lelie groei, ook op spesiale versoek besigtig kan word.

botaniese tuin

 Gepubliseer deur Kiewiet Scheppel op 17 Februarie 2011.