
Swem SA wil in Puk belê
Swem Suid-Afrika het die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, weens die kampus se voortreflike sportfasiliteite, as ʼn strategiese vennoot geïdentifiseer om swem as professionele sport in die provinsie en nasionaal te help bevorder.
|
|
|
ʼn Afvaardiging van Swem SA het onlangs op die Pukkampus verkenningswerk gedoen. Hier is dr. Theuns Eloff (visekanselier van die NWU), Alan Fritz (visepresident van Swem SA), Jace Naidoo (president van Swem SA), prof. Herman van Schalkwyk (kampusrektor) en Shaun Adriaanse (uitvoerende hoof van Swem SA). |
Volgens Swem Suid-Afrika se president, Jace Naidoo, is hul versoek dat die NWU-Pukke by hul langtermyn uitsetgedrewe strategiese plan, sal inskakel. “In die konteks van die mandaat wat Suid-Afrikaanse sportkonfederasie en Olimpiese komitee (SASKOK) aan ons gegee het, wil ons hoë professionele prestasies in 2010, 2016 en 2020 bewerkstellig en sien die NWU-Puk as ‘n strategiese vennoot om die doelwitte te laat realiseer,” sê hy.
Vir dié doel beoog Swem Suid-Afrika om in samewerking met die NWU se Potchefstroomkampus ʼn hoë-prestasie swemsentrum op die kampus te vestig. Afgevaardigdes het pas ‘n aand in die Puk Sports Village oornag om ʼn gevoel van die plek te kry. Dié aand het hulle informeel met dr. Theuns Eloff, visekanselier, prof. Herman van Schalkwyk, Puk-kampusrektor, en James Stoffberg, direkteur Puksport gekuier en ʼn verkennende gesprek oor ʼn moontlike samewerkingsooreenkoms gevoer.
Swem SA het in beginsel besluit om ʼn samewerkingsooreenkoms met die NWU se Potchefstroomkampus te sluit en dat Stoffberg ʼn strategiese aksieplan sal opstel vir die opgradering van ʼn bestaande swembad.
Dié verslag sal ook voorsiening maak vir die inskakeling by bestaande fasiliteite op kampus, die bedryf van ʼn hoë-prestasie swemsentrum, en ʼn begroting en bronne van finansiering om so ʼn projek te bedryf. Die aksieplan sal aan die NWU en Swem SA voorgelê word vir verdere gesprekvoering en implementering.
Gepubliseer deur Kiewiet Scheppel op 2 Desember 2010.



