NWU, Potchefstroomkampus, Nuus: Puk verseker krities bedreigde plant se voortbestaan

Puk verseker krities bedreigde plant se voortbestaan

Die Noordwes-Universiteit Potchefstroomkampus se Botaniese tuin is die trotse rentmeesters van ‘n krities bedreigde plantspesie en deur uithouvermoë en harde werk, is dié plant se voortbestaan nou verseker. Die plantspesie, Prototulbaghia siebertii, wat slegs in ‘n paar vierkante meter in die wêreld te vinde is, is vernoem na sy ontdekker, prof. Stefan Siebert, ‘n dosent in plantkunde aan die Puk.

Botaniese tuin_4105

Die krities bedreigde plantspesie, Prototulbaghia siebertii, word tans by die NWU Puk se Botaniese tuin gegroei en versorg.

  Dié plante wat aan die knoffelfamilie behoort, is in 2008 op die Leolo-bergreeks in die Limpopo-provinsie versamel en word sedertdien by dié Botaniese tuin gegroei en versorg.
  Volgens Siebert, is dié nie net ‘n nuwe spesie nie, maar ook ‘n splinternuwe genus, wat dit nog veel meer besonders maak. “Ons weet nog nie veel van die plant nie, omdat dit ‘n baie geïsoleerde spesie is. Genetiese navorsing word tans in Europa gedoen om die plant se presiese plek binne die knoffelfamilie te bepaal.”
  Erich van Wyk, ‘n oud-Puk wat tans werksaam is by die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteits Instituut (SANBI) en ook koördineerder van die Millenium Saadbank in Suid-Afrika, het pas die NWU Botaniese tuin besoek, om ook dié gesogte spesie se sade te kry vir bewaringsdoeleindes. Volgens Van Wyk, is hulle deur die Royal Botanic Gardens in Kew, Engeland genader om van die sade te oes en dit in Engeland te kom bewaar. Hierdie tuin is bekend vir sy bewaring van wêreldwye bedreigde plant- en fungusspesies.

Botaniese tuin Prototulbachia siebertii


  Martin Smit, kurator van die NWU Botaniese Tuin, sê hulle is verbaas dat die plant so goed in die tuin se kweek- en navorsingsplanthuis aard. “Hulle floreer letterlik en maak sommer aanhoudend nuwe blomme en sade, wat ons kan oes en bewaar om die voortbestaan van die plant te verseker. Ons het intussen van dié plante en sade na verskeie Botaniese Tuine wêreldwyd gestuur en ook ons kennis oor tegnieke vir suksesvolle kweking gedeel, sodat hulle ook die spesie se kan help bewaar.”

 Gepubliseer deur Kiewiet Scheppel op 10 Maart 2011.